KNYSNA NUUS - 'n Kragonderbreking verlede Donderdag, 6 Augustus, het die interskolekragmeting tussen die muurbalspanne van Hoërskool Knysna en Hoërskool Punt van Mosselbaai so ampertjies in die wiele gery.
En Eskom was dié keer nie die skuldige party nie. Knysna-munisipaliteit moes glo noodgedwonge herstelwerk op 'n kraglyn doen, en dit het beteken dat albei muurbalbane van Hoërskool Knysna in gedompel was.
En 'n donker muurbalbaan en 'n bal wat blitsig deur die lug trek voorspel niks goeds vir spelers nie.
Gelukkig is daar 'n plan gemaak en 'n kragopwekker is inderhaas bokant een baan met twee spreiligte opgestel. Nou wel nie ideaal nie, maar dit het die baan darem meer speelbaar gemaak. Al agt wedstryde kon dus afgehandel word.
Knysna se A-span het skoonskip in hul onderskeie kragmetings gemaak en met 8 - 0 gewen. Mosselbaai se B-span het die bordjies verhang en met 6 - 4 gewen.
Die krag het wel aangekom, maar nie voor 'n handvol wedstryde in skemer afgehandel is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’