EDEN HENGEL NUUS - Op 18 Mei 2019 het Eden Kushengel tydens 'n spoggeleentheid sy hengelaars vereer by Wilderness Hotel vir hulle prestasies wat hulle bereik het gedurende die afgelope jaar.
Die somerliga se algehele wenners was Stilbaai-hengelklub en hulle is vereer met 'n goue medalje. Triton-hengelklub in Mosselbaai het daarin geslaag om die B-afdeling te wen en in die C-afdeling het George as die wenners uitgestap.
Die top hengelaar van die jaar was Andrew Wood van Knysna-hengelklub en die top dame en administrateur van die jaar was Mariëtte Westraadt van Stilbaai.
Die titel van sportvrou van die jaar is ingeoes deur Elzaan Cronje van Stilbaai. Die top grootmeester was Hennie Klein van Atlantic-klub in George en die top meester was Kallie Erasmus van Knysna.
Die top O21 was Kyle Smal van Knysna en hy het ook die troffee ontvang vir die grootste kabeljou van 39.18kg. Top O16 was Juanco Boshoff van Triton. Die beker vir grootste oneetbare vis is verower deur Henry Terblanche vir sy vangs van 'n swart pylstert van 111.88kg.
Die trofees vir meeste vis en sportman van die jaar beker is gewen deur Raldo Potgieter van Knysna, en die pa-en seuntrofee is toegeken aan Regard en Duan Lesch. Die winterliga se hengelaars is ook vereer en Stilbaai het daarin geslaag om as die algehele wenners gekroon te word. Die spanne wat volgende jaar teen die ander provinsies in die land gaan deelneem is ook bekend gemaak.
Raldo Potgieter ontvang sy beker vir sportman van die jaar vanaf Eden Kushengel se voorsitter, Thomas Heath.
Top meester Kallie Erasmus ontvang sy trofee van Eden Kusengel se voorsitter, Thomas Heath. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'