Gallery
SUID-KAAP NUUS - Deelnemers van Knysna en Plettenbergbaai is reeds besig om hulle strekoefeninge te doen vir die groot jaarlikse Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms wat atlete van sewe provinsiale spanne op 2 Februarie na Oudtshoorn gaan lok, en vanjaar beloof om die grootste byeenkoms ooit te wees, met 619 atlete wat gaan deelneem.
Die byeenkoms, in sy 28ste bestaansjaar, word deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport in Oudtshoorn aangebied en volgens Eden Tweekamp se operasionele bestuurder Dave van der Walt, is daar nog geen soortgelyke byeenkoms in Suid-Afrika met so 'n lang ononderbroke geskiedenis van aanbieding nie.
Provinsies wat vanjaar gaan spook vir die topposisie is WP, Boland, OP, Vrystaat, Grens, Griekwas en Eden Tweekamp – volgens Van der Walt is vanjaar dan ook die eerste keer dat die ou SWD Tweekamp onder hulle nuwe naam van Eden Tweekamp deelneem.
Van der Walt het gesê dat provinsies graag hierdie byeenkoms gebruik om aan hulle spanne vir die SA Kampioenskappe wat vanjaar op 29 en 30 Maart in die Port Elizabeth plaasvind, te skaaf.
"Die spankompetisie gaan vanjaar groot uitdagings vereis van WP met sy 152 atlete, Boland met 180 atlete, Eden met 133 atlete en OP met 122 atlete. Elke provinsiale span word ook toegelaat om 'n A-span, B-span en ontwikkelingspan in te skryf. Dit is een van die min byeenkomste waar die ontwikkelingsatleet ook tot sy reg kom. Items vir die gestremde atlete is nou al 'n standaard-item op die program, en bestaan uit 'n 400m hardloop-item en 50m swem-item."
Die byeenkoms begin om 07:30 met 'n opening waarna die hardloop-items om 08:00 by die De Jager Sportkompleks sal plaasvind. Direk daarna word die swem-items by die NA Smit-swembad gehou.
"Vanjaar se gesamentlike aanbieders is OP en Eden met die bystand van veral die Boland- en WP-beamptes. Konserwatief geskat, dra hierdie byeenkoms tans sowat R3.2-miljoen by tot die ekonomie van Oudtshoorn," het Van der Walt gesê.
Vir verdere navrae skakel Van der Walt by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'