Die SWD-krieketspan word die naweek deel van krieketgeskiedenis wanneer hulle in die eerste eersterangse wedstryd in Rustenburg speel.
Noordwes, met Senwes Park in Potchefstroom as hoofkwartier, beloon die uitstekende fasiliteit van die Imapala Platinum-myne met die toekenning van hier-die wedstryd, maar die SWD kan met 'n oorwinning in die eendagwedstryd 'n tree nader gee aan sy eie blink geskiedenis deur sy eerste groot trofee te wen.
Om dit te vermag kan die SWD nie bekostig om enige van sy oorblywende vyf wedstryde in die eendagreeks te verloor nie.
SWD is tans tweede agter die WP op die punteleer van die Krieket SA eendagreeks en die span van Ross McMillan durf nie teen die Noorwes-ters, wat juis verlede naweek teen die WP verloor het en derde agter die SWD op die punteleer is, verloor nie.
SWD sal ook wil verbeter op sy agtste posisie op die punteleer in die driedaagse kompetisie en die sleutel tot sukses sal afhang van die kolfvertoning van die Suid-Kapenaars se kolfarsenaal wat in die onlangse twee wedstryde gesukkel het.
Die keurders het Gerhard Strydom vir die wedstryde weggelaat met Brendon Louw wat weer in die span is. Justin Jordaan, wat met 'n lastige besering sukkel, is nie oorweeg nie en die bybreekbouler, Stephan Grobler, is terug in die groep.
Die SWD-span is Ross McMillan (k), Sammy-Joe Avontuur, Burton de Wett, Niel Bredenkamp, Brendon Louw, Pieter Stuurman, William Hantam, Roelof Hugo, Stephan Grobler, Wessel Hartslief en Gershwin Rabie. Douglas Baartman en Erinn Ewerts word bygevoeg vir die eendagwedstryd.