TUIN ROETE NUUS - 'n Baie suksesvolle 2025 SA tweekampkampioenskap is die afgelope naweek, 21 en 22 Maart, in Oudtshoorn aangebied.
Meer as 900 atlete van 14 provinsies het deelgeneem. Eden het 10 goue, twee silwer- en een bronsmedalje verower.
Die atlete van die Eljada-nasorgsentrum in Oudtshoorn, Michelle Lombard, Elizabeth Botes, Miena Baartman, Maja Ehlers, Elisma Joubert, Johan Lourens, Pieter Henning, Danie Botes en Francois Coetzee, het goud in die afdeling vir atlete met spesiale behoeftes verower.
Die De Jager-sportkompleks en NA Smit-swembad was feestelik getooi en die weer het mooi saamgespeel om die jaarlikse skouspel uniek te maak.
Tussen 3 000 en 4 000 toeskouers het die paviljoene volgepak en die gasvryheid van Oudtshoorn geniet. Tydens die openingseremonie Vrydagmiddag, 21 Maart, het Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, almal in die pragtige Klein-Karoo welkom geheet en die hoop uitgespreek dat almal weer sal terugkeer as toeriste. Daarna is die gaste by die Presidents-funksie onthaal.
Eden se skoolatlete het ook goed presteer. Laerskool Outeniqua was uit 98 laerskole in die tweede plek en Laerskool George-Suid in die derde. Die afdeling is deur Paarl Gimnasium gewen.
In die hoërskoolafdeling het 87 skole deelgeneem. Hoërskool Durbanville was in die eerste plek, Hoërskool Sentraal tweede, Hoërskool Punt derde en Hoërskool Outeniqua vierde.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’