OPINIE - My pa is uit-en-uit 'n verlekkerende, herhalende, gewoonte storieverteller. Ja, ietwat vreemde beskrywing, maar jy het reg gelees. Hy verlekker homself in stories wat hy al 341 keer oor en oor vertel het.
En hy herhaal dit met soveel oorgawe omdat dit 'n afpak gewoonte is wat terselfdertyd troos en frusteer. Ek het oor die jare al vrede gemaak daarmee en beaam net gedweë, "Ja, ja, ja, Pappie".
Hy het natuurlik vele moan onderwerpe, maar sy gunsteling is politiek en die land wat in sy glory is - maar sy showstopper is hoekom hy nie ook 'n "verniet"-huis by die regering mag kry nie.
Meevallertjies
Sedert 1994 reën dit in Suid-Afrika met HOP (Housing Opportunities Programme) en (RDP) Heropbou- en Ontwikkelingsprogram-huise ter waarde van minstens R250 000 wat "verniet" deur die regering weggegee word.
Al wat jy moet doen om te kwalifiseer vir hierdie meevallertjie is om minder as R3 500 per maand te verdien.
So, die vraag wat gereeld gevra word is: Wat van die opkomende middelklas? Die ou wat te veel verdien vir staatsubsidies, maar nie genoeg om huislenings te bekom nie.
Die ou wat bo sy omstandighede wil uitstyg en daarin slaag, net om beboet te word vir sy sukses.
Nou moet hy met 'n tikkie verdriet, gemeng met 'n omstuimige hart, toekyk hoe sy ou skoolmaat wat 'n joppie hier en daar het, al vir 10 jaar lank sy eie huis besit.
Dit als terwyl Meneer Voorbeeldig homself afsloof om ten duurste 'n huis te huur. Toegegee, HOP en RDP-huise is nie in die beste areas nie, maar as huiseienaar het jy steeds die reg om dit te verhuur as ekstra inkomste of te verkoop in die toekoms.
Hoop
So 'n paar weke gelede het die Knysna-Plett Herald 'n opvolgberig geskryf oor 'n groep middelinkomste-inwoners in Hornlee wat beswaar aangeteken het oor die rigting wat ingeslaan word met 'n behuisingsprojek in die Hornlee-woongebied.
Hierdie projek, om Erf 3339 in Hornlee te ontwikkel, is 'n paar jaar gelede deur Knysna munisipaliteit van stapel gestuur deur middel van 'n openbare-private vennootskap (OPV), juis met die doel om behuising vir lae- en middelinkomste-inwoners te verskaf.
Die projek word deur privaat befondsing ondersteun en sluit woonstelle en erwe in. Burgemeester Thando Matika het toe gesê dat die munisipale raad die aanstelling van 'n transaksie adviseur ondersteun om die Finansieel Gekoppelde Individuele Subsidieprogram (FLISP) ontwikkeling op Erf 3339 te versnel.
FLISP is ontwerp vir eerstekeer kopers van huise in Suid-Afrika wie se bruto huishoudelike inkomste tussen R3 500 en R22 000 per maand is.
Volgens Matika sal die transaksie adviseur toesig hou oor hierdie FLISP-projek om professionele uitvoering te waarborg terwyl risiko’s tot die minimum beperk word. Hy het selfs voorgestel dat hierdie benadering as 'n model vir ander munisipaliteite kan dien wat met soortgelyke behuisingsuitdagings worstel.
Nuwe plan
Die Hornlee Inclusive Housing Solutions (HIHS), wat hierdie projek al sedert 2021 dryf, het egter nou standpunt ingeneem teen die munisipaliteit se "nuwe plan" en sê dit wyk af van vroeëre beloftes wat deur die gemeenskap ondersteun is.
Hulle besware sluit in onduidelike tydraamwerke, erfgroottes en terugbetalingsvoorwaardes. Sowat 40% van HIHS se lede verdien meer as R22 000, en val dus buite die FLISP-raamwerk.
HIHS eis nou hernude samespre kings en 'n terugkeer na die oor spronklike plan wat volgens hulle onder meer stipuleer dat inwoners nie vir die erwe hoef te betaal nie. Hoe hierdie kat-en-muis speletjie ook al gaan uitspeel; die dialoog is ten minste daar en gaan steeds voort. Dis bemoedigend, alhoewel die vertroue tussen die twee partye skraps is.
'n Beter lewe ... vir wie presies?
Nie almal kan noodwendig hul eie huis besit nie, maar die sisteem moet diegene wat hard werk vir 'n beter lewe nie penaliseer nie. 'n Dak oor jou kop is immers 'n reg. Of is die plakkaat van die regerende party waarteen ons met verkiesingstye vir die afgelope 31 jaar moet vaskyk, A Better Life For All, 'n sprokiesverhaal soos Tom die kat wat net nooit vir Jerry die muis kan vang nie?
Deesdae, as my pa lostrek met sy 342ste afpaksessie oor rou onderwerpe soos hierdie, is ék die een wat my verlekker en hom selfs entoesiasties onderbreek met, "Ditsem Pappie! Ek wil ook weet waar is my 'verniet'-huis!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’