GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die N2 tussen Glentana en Groot-Brakrivier is gesluit nadat twee vragmotors vroeg vanoggend in 'n ongeluk betrokke was.
Volgens die Suid-Kaap polisiewoordvoerder, kaptein Malcolm Pojie was die bestuurder van een van die vragmotors om ongeveer 02:00 onderweg na George toe hy beheer oor die vragmotor verloor het.
Die vragmotor het deur die N2 middelman en in die eenrigtingbaan van die N2 wat verkeer na Mosselbaai neem beland. Boonop het die waens wat aan die vragmotor gekoppel was oor die pad en om 'n draai naby die Glentana uitkykpunt gelê.
Pojie sê 'n 48-jarige man van George het met sy bakkie op die toneel gestop en probeer om aankomende verkeer in die rigting van Mosselbaai te waarsku.
'n Volvo vragmotor wat kort daarna in die rigting van Mosselbaai onderweg was kon egter nie betyds stop nie en het in die man en die omgeslaande vragmotor vasgejaag. "Die man is op die toneel dood verklaar."
Volgens Pojie is 'n 37-jarige passasier wat in een van die vragmotors was ook op die toneel dood verklaar. "Die man is oorspronklik van Port Elizabeth."
Lees meer op ons susterskoerant, Mossel Bay Advertiser.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'