Soos verwag kan word het die motor talle gerieflike ekstra's - wat al kernmerkend geword het van die aggressiewe bemarking uit die Ooste. Dieselfde geld vir die ondersteuning wat GWM aanbied met die motor: die C20R is die eerste wat deur die vervaardiger aangebied word met 'n standaard 3-jaar of 45 000 km diensplan.
VOORKOMS
Die C20R is gebaseer op GWM se gewilde C10 kompakte luikrug. Dit het 'n kenmerkende nuwe sierrooster voor en drukvin met geïntegreerde misligte. Die swart afwerking om die wielnisse, dakrelings, voor en agter skermstroke in 'n konstrasterende silwer kleur wat 'n tikkie ekstra verfyning aan die voorkoms van die kompakte voertuig gee.
Met 16" allooiwiele as standaard en 'n grondvryhoogte van 172 mm, is die C20R ideaal vir bietjie ekstra avontuur oor naweke.
Die geheelindruk van die C20R is netjies en by nadere ondersoek lyk die bougehalte stewig. Die plan is egter om die voertuig self oor 'n langer afstand te beproef en ons planne het 'n aksie-belaaide program in Kaapstad met heelwat sake-verpligtinge en 'n bietjie ontspanning ingesluit wat die motor onder verskillende omstandighede sou toets.
BINNERUIM
Die oorhoofse ontwerptema in die kajuit getuig van sportiwiteit en kwaliteit. Die bekleedsel se kombinasie van rooi en swart is stylvol en glad nie steurend op die oog nie - dit laat die binneruim trouens lewendig en interessant lyk.
Die gerief van die bestuurder is beslis beplan en daaroor later 'n bietjie meer, maar wat styl betref is die pedale met 'n aluminium-voorkoms versier en die stuurwiel is 'n gerieflike grootte met klankbeheerknoppe.
Die afwerking van die motor binne is netjies en die silindriese instrumente is duidelik sigbaar en die instrumentepaneel is ook beplan om maklik bereik te word en het 'n mooi kurwe.
Die kattebak het twee afdelings en die agtersitplekke kan vorentoe vou wat baie ruimte toelaat.
GERIEF
Die gehalte en gerief is buitengewoon vir die kompakte segment en die prys. Selfs na 'n langerige bestuurskof van vier uur was die motor steeds gerieflik en die verstelbare bestuurdersitplek en stuurwiel het bygedra tot 'n gemaklike bestuursposisie.
Lugversorging, kragstuur, elektriese vensters was natuurlik ook staatmakers vir die langpad.
In die verkeer waarvoor Kaapstad berug is, was die motor ook lekker beweeglik met goeie stadmaniere - 'n gemaklike klein draaisirkel en versnelling soos 'n mens dit nodig kry.
Ander standaard-elemente is maklike spieëlverstelling, afstandbeheerde klankbeheer, hoogteverstelbare hoofligte, 'n parkeersensor agterlangs en 'n kombinasie van radio/CD/MP3 en USB-sok.
BESTUURGEMAK
GWM se 1,5-liter petrolenjin is die kragbron van die C20R. Die enjin lewer 77 kW teen 6 000 r/min en 138 Nm wringkrag teen 4 200. Die vyfspoed-handratkas is ook maklik en die bestuurder leer gou dat die enjin genoeg skop het om stadiger voertuie verby te gaan sonder om goeie brandstofverbruik in te boet. Die gepubliseerde brandstofverbruiksyfer is 7,7 liter per 100 km op 'n gekombineerde siklus met 'n emissiesyfer van 179 g/km.
VEILIGHEID
Veiligheid vir die bestuurder en passassiers berus op dubbele lugsakke voor en skyfremme is standaard. Die sluitweerremstelstel (ABS) word ondersteun deur elektroniese remkragverdeling (EBD) en noodrembystand (EBA).
Isofix-ankerpunte vir kinderstoeltjies is agter geplaas en die deure is peuterbestand danksy kinderslotbeskerming. Die voorste sitplekgordels is hoogteverstelbaar, wat bydra tot veiligheid en gerief. Die alarm en immobiliseerder is ook standaard en afstandbeheerde sentrale sluitaksie maak sekuriteit ook baie maklik.
SLOTSOM
Ondersoek beslis hierdie opsie self en kyk wat alles ingesluit is. Die model is stewig met genoeg krag, netjiese afwerking en genoeg elektroniese hulp vir die bestuurder sonder dat dit in 'n ruimtetuig verander.
BESONDERHEDE
Die C20R is beskikbaar in verskeie opwindende kleure soos oranje, blou, rooi, swart, silwer en wit. GWM ondersteun die produk met meer as 70 takke en dienssentrums landwyd.
Die prys is R154 900 en sluit 'n omvattende 3-jaar of 100 000 km waarborg in, asook 2-jaar, 24-uur padbystand. Die diensplan van 3-jaar of 45 000 km is 'n eerste van die maatskappy.
Die C20R is vir die toetsrit beskikbaar gestel deur GMW George. Vir meer inligting, skakel 044 803 7900, of besoek gerus die vertoonlokaal in CJ Langenhovenstraat, George.

Die bekleedsel se kombinasie van rooi en swart is stylvol en sportief. Foto's: QuickPic.
ARTIKEL: ANICA KRÜGER, SUID-KAAP MOTORGIDS-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'