TUINROETE NUUS - Belanghebbendes wat omsien na die voorkoming en bestryding van brande in die gebied, is gereed. Dit blyk uit navrae wat George Herald aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit gerig het.
Kommer neem gewoonlik dié tyd van die jaar toe omdat dit warm is en sterk winde by tye voorkom.
Deon Stoffels, brandweerhoof van die distriksmunisipaliteit, het gesê die sogenaamde brandseisoen is bewys as 'all year round' deur byvoorbeeld die Knysna, Vermaaklikheid en George (Herold) brande van 2016, 2017 en 2018.
Die somerseisoen word beskou as die standaard brandseisoen, juis deur 'n toename in temperatuur wat soms kan styg tot naby 40°C. Gewoonlik is daar dan 'n toename in die ontstaan van brande, weerlig wat brande veroorsaak, en natuurlik 'n toename in nalatige brande oor veral die feesseisoen verval met ontwettige afvuur van vuurwerke wat hierdie situasie kan aanhits.
Alle beplanning word vir hierdie periode opgeskerp, deur geïntegreerde brandbestuur-belanghebbendes te ontplooi, wat hulpbronne en toerusting het, asook ekstra en tydelike bemanning vir hierdie tydperk.
Volgens Stoffels is hulle goed voorbereid.
"Die distrik en geintegreerde brandbestuur belanghebbendes het op 28 September 'n Veldbrandwerkgroep-vergadering gehou, waar juis die voorheen genoemde brande in diepte bespreek is en 'n assessering van elke entiteit se hulpbronne, toerusting, bemanning en beplanning gedoen is."
'n Operasionele plan word nou daaruit saamgestel. Hierdie werkgroepvergadering word dan ook opgevolg in die eerste week in Desember, om juis 'n reaksieplan te konsolideer.
Die distrik, tesame met groter grond-
eienaars, PG Bison, Kaapse Natuur-bewaring, SANParke en MTO Forestry het ook 'n eerste reaksie lugsteun op bystand deur middel van 'n diensvlakooreenkoms.
Die Wes-Kaapse provinsiale regering brand- en reddingsdienste direktoraat maak ook voorsiening vir 'n vloot van ten minste vyf tot ses lugsteun hulp-bronne wat op bystand is vir die seisoen, wat helikopters, vliegtuie asook AT 802- bomwerpers insluit.
Die distrik self werf jaarliks tussen 20 en 25 tydelike brandbestryders om hul kapa-siteit te verbreed vir hierdie tydperk.
Wenke
- Moenie vure in nie-aangewese plekke maak nie.
- Moenie vure onbeman laat nie.
- Moenie vure in die veld maak sonder 'n permit nie. Brandpermitte word teen 30 November elke jaar, vir alle areas gestaak.
- Moenie vuur op droë warm dae, en spesifiek nie op winderige dae maak nie.
- Hou die weervoorspelling daagliks dop, spesifiek vir moontlike brandtoestande in jou onmiddellike omgewing.
- Meld onmiddellik enige teken van rook aan by jou naaste brandweerdienste.
- Dit is ook belangrik dat boere nie op droë, warm en winderige dae ploeg of bossiekap werk doen nie. Klippe teen lemme kan natuurlik vonke veroorsaak.
- Kettingsae en borselkappers, waarmee hout gemaak word en of gras en bome gesnoei of gesaag word moet verkieslik vermy word op warm en winderige dae.
- Sigaretstompies wat uit voertuie gegooi word moet ten alle tye vermy word (rokers, hou maar 'n halwe bottel water byderhand vir sigaretstompies).
- Vermy vuurwerke in hoë risiko areas, veral kusgebiede.
- Hou geute en balkonne skoon van vlambare stowwe.
- Hou vensters en deure toe in areas waar veldbrande in die nabyheid woed, want vlieënde vonke kan moeilikheid veroorsaak.
- Hou toegangsroetes skoon, hou ook ruimtes rondom jou erf, huis, strukture en store skoon.
- Indien moontlik, koppel 'n besproeiing-stelsel aan veral houthuise asook grasdakhuise.
Kontak besonderhede vir waar brande aangemeld kan word:
- George-brandweer: 044 801 6300
- Tuinroete-distriksmunisipaliteit: 044 805 5071
- Mosselbaai-brandweer: 044 606 5000
- Hessequa-brandweer: 028 713 2222
- Oudtshoorn-brandweer: 044 203 7800
- Bitou-brandweer: 044 501 3232
- Knysna-brandweer: 044 302 8911
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’