TUINROETE NUUS- Die saak teen 'n voormalige munisipale bestuurder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is Vrydag 23 Januarie in die Oudtshoorn-landdroshof vir verhoor tot 19 Februarie uitgestel en oorgeplaas na 'n spesiale hof in Plettenbergbaai.
Walter Hendricks (64) word daar-van aangekla dat hy tussen November 2021 en Januarie 2022 as die munisipale bestuurder op growwe en nalatige wyse opgetree het deur nie die finansiële administrasie by die munisipaliteit behoorlik te bestuur nie.
Hy het glo nie redelike stappe gedoen om te verseker dat onreëlmatige vrugtelose en verkwistende uitgawes en/of verliese voorkom is nie.
Die munisipaliteit het gevolglik glo verliese van R451 143 gely omdat hy kerfverhogings van amptenare gemagtig het sonder om die vergoe-dingsbeleid van die munisipaliteit in ag te neem.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof Vrydag meegedeel dat die saak na Plettenbergbaai oorgeplaas is, en deur landdros Zuastrid Deyce tot 19 Februarie uitgestel is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’