"Dit was verskriklik - daardie geluid van ‘n enjin wat klink of iemand drag racing doen en toe net metaal wat buig," vertel Bronwyn Prinsloo (27) van George wat letterlik oor haar sel-foon gehoor het hoe haar man, Neels (30) verongeluk.
Sy is ontroosbaar en steeds in ‘n erge toestand van skok. Bronwyn vertel dat sy haar man Vrydagoggend die laaste keer lewend gesien het toe hy weg is werk toe.
"Ná werk is hy deur vir ‘n visvangkompetisie in Sedgefield. Hy was vreeslik opgewonde daaroor en het vir almal by sy werk vertel hoe hy daarna uitsien."
Neels se ma, Veronica Terblanche, en haar vriend, George ‘Boetie’ Green (56) was almal in die motor toe die tragedie plaasgevind het.
"Ek het skielik Vrydagaand 20:45 ‘n dringende gevoel gehad om Neels onmiddellik te bel," vertel Bronwyn in trane. "Hy het net daai een woordjie gesê, maar van die klank van die enjin kon ek hoor hy bestuur sy ma se kar - ek het nog vir hom gevra wat gaan aan, maar die volgende oomblik hoor ek net die slag," snik sy.
Sy het bly gil dat hy haar moet antwoord, maar die lyn was dood. Bewend het Bronwyn dadelik haar skoonma en dié se vriend ook begin skakel, onwetend dat George, wat agter Neels gesit het, ook reeds oorlede was. Sy nek is vermoedelik in die slag gebreek.
"Kry my hier uit, my kind! Ek kan nie asemhaal nie," het sy haar skoonma hygend en in pyn hoor kerm toe sy ná die soveelste keer uiteindelik haar selfoon antwoord.
"Haar selfoon het aan gebly en ek het stemme en geraas in die agtergrond gehoor tot ‘n onbekende vrouestem geantwoord het," vertel Bronwyn wat teen daardie tyd heeltemal rasend was en besef het iets vreeslik het gebeur.
Die vrouestem was ‘n polisiebeampte wat op die toneel aangekom het.
"Dit lyk of jou man onder die invloed bestuur het en jy kan nie nou met hom praat nie," het die vrouestem gesê.
(Die Nissan Leopard waarin hulle gery het, is agter in ‘n 24-wiel-trok in net voor die Swartvleibrug op die N2 op Vrydag, 12 November.)
Hierop het Bronwyn se buurvrou haar na die toneel gehaas. "Ek wou my man net ‘n drukkie gee voor hulle hom opsluit of as hy seergekry het, hospitaal toe vat," huil sy.
Paramedici was egter net besig om Neels se liggaam na die forensiese voertuig te dra toe sy op die toneel opdaag.
Beamptes het gekeer dat sy nader gaan en haar eenkant geneem om die nuus mee te deel.
Begrafnis
Neels se begrafnis was verlede week. Bronwyn wou hom vir oulaas by die lykshuis sien. "Ek het die materiaal waarin hy toegemaak is, probeer wegtrek, want ek wou sy hand vashou, maar ek kon nie."
Bronwyn en Neels was nog nie twee jaar getroud nie en wou graag nou met ‘n gesin begin.
"Ek word elke oggend wakker wanneer dit tyd is vir hom om werk toe te gaan. Alles om my laat my aan hom dink."
Bronwyn ontvang berading van Famsa.
Veronica is tans steeds in Groote Schuur-hospitaal. Haar toestand is onbekend.
Neels het onlangs dié twee hondjies vir Bronwyn gekoop.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK