KNYSNA NUUS - Die Vermont Tehuis vir Bejaardes het onlangs 'n welkome finansiële hupstoot van R25 000 ontvang, geskenk deur Adcock Ingram in samewerking met Knysna Central Pharmacy.
Adcock-skenking
Die skenking is gemaak as deel van 'n gemeenskaps inisiatief om die lewens-gehalte van die bejaarde inwoners te verbeter en om broodnodige middels beskikbaar te stel vir die instansie se daaglikse bedryf.
Jolene de Lange van Adcock Ingram sê: "'n Mens se hart moet op die regte plek wees. Dis min dat jy vandag nog mense kry wie se harte regtig op die regte plek is".
Die idee vir die skenking het by Lucas Hleza, apteker by Knysna Central Pharmacy, ontstaan. "Ek het eendag verby Vermont gery en vir my familie gesê: 'As ek eendag die Lotto wen, sal hierdie plek die eerste wees wat ek help.' En kyk nou - hier het die Here dit op Sy manier bewaarheid," het Hleza gesê.
Saam met sy kollega, Kenray Barnard, het hulle 'n volledige lys van behoeftes en kwotasies vir die tehuis opgestel.
De Lange het die twee aptekers vir hul ywer geloof. "Was dit nie vir Lucas en Kenray se spoed en toewyding nie, sou hierdie skenking dalk nie so vinnig plaasgevind het nie."
Vermont sê dankie
Ricky van Aswegen, Vermont se tesourier, het sy opregte waardering teenoor Adcock en Knysna Central Pharmacy uitgespreek.
"Ons het laas jaar deur moeilike tye gegaan en gevrees die instansie sou sluit. Maar vandag gaan dit aansienlik beter - danksy harde werk en hulp soos hierdie."
Van Aswegen het afgesluit deur sy oorlede moeder te eer wat altyd daarin geglo het iets aan Vermont te skenk, al is dit hoe klein. "Ek is trots om nou self 'n verskil in dié plek wat soveel vir Knysna beteken, te kan maak.
Ek is dankbaar en bly dat Vermont die eerste keuse was om gehelp te word. Dis 'n stadige proses; dis 'n deurlopende wedloop, en daar is altyd plek vir groei.
Die nodigheid gaan nie altyd net oor geld beskikbaar stel nie, maar ook soveel ander bystand wat ook by die sentrum nodig is. Ons waardeer die gebaar en bid en vertrou meer deure gaan vir Vermont oop," het Murro-Wayne Spies, Vermont se ondervoorsitter, gesê.
Die oomblik van blydskap. Adcock Ingram en Knysna Central Pharmacy se skenking aan Vermont op Donderdag 25 September. Foto: Rozano Alie
Die skenking is gemaak as deel van ’n gemeenskapsinisiatief om die lewensgehalte van die bejaarde inwoners te verbeter. Foto: Rozano Alie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’