Update
MOSSELBAAI NUUS - Lumari Mentz (22) is die afgelope week na 'n gewone saal oorgeplaas nadat sy op 23 Desember bykans 5 m ver geval het toe ’n reling van ’n brug waarop sy gestaan het meegegee het.
Die Mossel Bay Advertiser het by haar pa, Manus aangeklop om te hoor hoe dit nou met sy dogter gaan.
Die voorval het by die Big Blu-restaurant in Mosselbaai plaasgevind.
Verskeie van Mentz, wat van Standerton afkomstig is, se rugwerwels is gebreek en sy het ernstige beserings aan haar kakebeen opgedoen.
Haar pa, Manus, sê die gevoel in Lumari se bene en voete is tans beperk.
Sy ontvang steeds aarvoeding nadat haar kakebeen geheg moes word.
Volgens Manus is die dokters versigtig optimisties dat intensiewe rehabilitasie met verloop van tyd haar beenfunksie kan verbeter.
Lumari Mentz
Hoewel die gesin dankbaar vir hul mediese fonds is, sê Manus dat daar reeds aansienlike ekstra uitgawes is.
“Lumari gaan beslis buite-hospitaal-uitgawes hê. Sy staar ’n lang herstelpad in die gesig, met verwagte rehabilitasiekoste, hulpmiddels en moontlike tekorte in mediesefondsdekking,” sê hy.
Volgens Manus beleef die familie emosionele aan en af dae.
Maandag 5 Januarie was ’n besonder moeilike dag, aangesien Lumari veronderstel was om by ’n fertiliteitskliniek in Sandton te begin werk.
Sy studeer kliniese tegnologie aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) en is in haar finale studiejaar, en sou spesialiseer in fertiliteit met die oog daarop om ’n embrioloog te word.
“Die besef het toe eers regtig ingesink dat sy nie sou kon begin werk nie,” sê Manus.
Lumari, die Mentz-egpaar se middelste kind, sal na verwagting binne die volgende paar dae na ’n rehabilitasiesentrum in Pretoria oorgeplaas word. Sy het ’n ouer suster en ’n jonger broer in matriek.
Manus sê die gesin probeer positief bly, al is daar moeilike dae.
“Ek en my vrou huil baie saam en dan voel ons weer beter. Ons gemoedstoestand hang baie saam met Lumari s’n. Daar is dae wat ons by die hospitaal wegry en sy glimlag en sterk voel - dan glimlag ons ook. Maar as sy hartseer is, is ons ook hartseer.”
’n Kliniese sielkundige het Lumari reeds besoek en ook met die Mentz-egpaar gesels.
“Dit is iets wat ons sal moet deurwerk. Ek dink wanneer sy eers uit die hospitaal is en met die volgende fase van die herstel begin, is dit reeds ’n babatree vorentoe,” sê Manus.
Hy voeg by dat die gesin onder die omstandighede staande bly. “Ons hoop Lumari bly positief. Ons is mense met ’n positiewe geaardheid, maar dit is ’n lang proses.”
Die Mentz-egpaar bedank almal vir hul ondersteuning, gebede en boodskappe.
Belangstellendes wat die veldtog wil ondersteun kan dit by https://www.backabuddy.co.za/campaign/lumari-mentz doen.
Vorige artikels:
Pa gesels na 22-jarige se val by Punt-restaurant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’