KNYSNA NUUS - Sedgefield Eagles-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag, 7 Junie, vir Knysna United in 'n SWD Super B-ligawedstryd op Loeriepark met 17-16 geklop.
In hierdie rillerstryd het United sterk afgeskop met aanvallende rugby wat hul teenstanders ongedwonge foute laat maak het. Hul losskakel het munt hieruit geslaan en twee strafskoppe oorgeklits.
In die skrums het Sedgefield begin oorheers, terwyl Knysna sukkelend gereageer het. Teen rustyd was die telling 6-0 in Knysna se guns.
Kort na rustyd het Knysna weer hewige druk begin toegepas deur telkemale die voordeellyn oor te steek.
Hul pogings het vrugte afgewerp toe Sipho Buzani oor die doellyn geseil het om die telling na 11-0 te vergroot.
In hierdie stadium het dit gelyk asof Knysna die wedstryd onder beheer het.
Sedgefield het egter begin terugveg deur die wedstryd se tempo te versnel en in die proses agter die pale gaan kuier om die telling na 11-7 te krimp.
Knysna het onmiddellik teruggeslaan met 'n drie van hul eie, maar die doelskop was onsuksesvol. Telling: 16-7.
Met slegs 'n paar minute oor kon 'n mens Knysna vergewe het as hulle gedink het die wedstryd is in die sak, maar die Eagles het ander planne gehad.
Binne 'n bestek van vyf minute het hulle 'n strafskop deur die pale geskop en 'n verdoelde drie gedruk om die wedstryd te wen en United se harte te breek.
Eindtelling 17-16.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’