GEORGE NUUS - Die hoofde van George-hospitaal en Mediclinic George het Dinsdag 'n desperate pleidooi gerig aan inwoners van die Tuinroete om hulle daarop toe te lê om hul maskers te dra, sosiale afstand te handhaaf en ander Covid-19-protokolle na te kom om te help om enorme druk op hospitale in die distrik te verlig.
Privaat en openbare hospitale in die Tuinroete steier soos Covid-19-gevalle en -sterftes toeneem.
Kassie Karstens, Mediclinic se bestuurder, het aan George Herald gesê: "Ek kan amper nie eers begin beskryf hoe sleg dit gaan nie. Die toelatings neem nog nie af nie, en ons het nog 'n saal oopgemaak. Ons hulpbronne soos ventilators en Airvo's, asook alle intensiewesorg- en hoësorgbeddens is tans alles in gebruik."
Die emosionele druk van sterftes op Mediclinic se personeel is besig om sy tol te eis. "Hulle is moeg. Ons het weer personeel van ander dele van die land gekry om ons uit te help."
Oor die afgelope week het Covid-19-gevalle in die Tuinroete toegeneem met 29%. Teen 922 aktiewe gevalle per 100 000 van die bevolking ('n week gelede was dit 830) is dit die hoogste koers in die Wes-Kaap (496 per 100 000). George (met 1 295 per 100 000) en Mosselbaai (1 389 per 100 000) het die hoogste insidensie.
Die distrik se dodetal het die afgelope week met 97 sterftes opgeskuif na 1 706.
'Maksimum kapasiteit bereik'
George-hospitaal se uitvoerende hoof, Michael Vonk, het gesê Covid-19-toelatings by die hospitaal is hoër as tydens die tweede golf en die Covid-intensiewesorgeenheid funksioneer al vir etlike weke op maksimum kapasiteit.
Personeel van hospitale in die distrik moet tans 'n uiters moeilike situasie bestuur en trauma en verliese staar baie families en vriende in die gesig.
Suurstof word gereeld by George-hospitaal afgelaai, maar voorraad bly onder voortdurende druk met verbruik van meer as drie ton per dag. Die hospitaal het 96 Covid-19-pasiënte van wie 24 in hoësorg is.
Drie sale is omskep vir Covid-gevalle wat almal bykans op vol kapasiteit funksioneer. Verlede week moes hulle 'n gedeelte van 'n ander saal omskep in 'n bykomende Covid-19-saal om te voorsien in die toenemende vraag na beddens.
"Ons het nie net 'n groot aantal pasiënte in die hospitaal nie, maar ook personeellede wat in isolasie of kwarantyn is. Dit plaas geweldige druk op die stelsel," het Vonk gesê.
George-, Knysna- en Oudtshoorn-hospitale kan pasiënte help wat hoëvloei-nasale terapie benodig.
'n Etiese komitee bestuur hierdie beddens as 'n kollektiewe poel om gelyke toegang te verseker deur die Sentrale Karoo en Tuinroete. Pasiënte word dus tussen die hospitale oorgeplaas waar nodig en waar kapasiteit beskikbaar is.
Vonk het gesê hul grootste huidige bekommernis vir die George-hospitaal is die potensiële impak van mense wat nie by eenvoudige veiligheidsmaatreëls hou nie, soos om 'n masker op die regte manier te dra, sosiale afstand te handhaaf, byeenkomste en groot groepe te vermy, en tuis te bly wanneer 'n mens siek voel.
Inenting se positiewe effek op personeelsituasie
Volgens Karstens moet verskeie personeellede van Mediclinic tans isoleer, maar dis heelwat minder as tydens die vorige twee golwe. "Die inenting help vir seker, en personeel kom binne die verwagte tyd terug en word nie siek nie."
By Mediclinic Geneva is meer as 7 500 lede van die publiek al ingeënt, meestal ouer mense, en dit kan in die Covid-toelatings by die hospitaal gesien word.
"Die intensiewesorgeenheid het heelwat jonger pasiënte in as voorheen. Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om regtig versigtig te wees, en in te ent as hulle kan," het Karstens gesê.
Huishoudelike Covid-bondels
Die Tuinroete het 5 706 aktiewe Covid-19-gevalle (soos op 26 Julie). Volgens Nadia Ferreira, gesondheidswoordvoerder vir die Tuinroete, het al die sub-distrikte oor die afgelope week persentasietoenames getoon behalwe Mosselbaai waar die syfers basies dieselfde gebly het. Hessequa en Bitou het die grootste persentasie toename gehad.
Ferreira het gesê nuwe gevalle is wydverspreid met baie huishoudelike bondels. Die totale aantal gevalle wat in die distrik aangemeld is, het op Dinsdag 26 Julie gestaan op 48 297. 'n Week gelede was dit 45 017.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'