TUINROETE NUUS - Ná 'n welkome ruskans die vorige week, hervat die agt spanne in die SWD-rugbyunie se Top 8 Superliga dié naweek hul groot trapmekaar.
In twee van dié kragmetings gaan die hare ongetwyfeld waai.
Die opwindendste rugby sal seker in Pacaltsdorp in die derby tussen Evergreens en Progress gespeel word.
Om nie te praat nie van die kragmeting tussen Heidelberg en Bridgton - in Heidelberg - waar 'n koppestamp verwag word wat tot in alle uithoeke van Hessequa gaan weergalm.
Op sy tuisveld is Heidelberg 'n harde neut om te kraak en sy fanatiese ondersteuners is ewe intimiderend.
Bridgton, oor wie se kop die spreekwoor-delike swaard van Damokles hang ná die onbesonne optrede van 'n paar belhamels wat die skeidsregter bygedam het, kan self staatmaak op die entoesiastiese ondersteuning van sy ondersteuners.
Mens kan net hoop die entoesiasme van beide spanne se ondersteuners spoel nie oor in iets negatiefs wat die spel in oneer kan bring nie.
Evergreens gee reeds geruime tyd die pas aan in die liga en is op 48 punte ver voor Heidelberg (40 punte) in die tweede plek. Dan volg Progress (40) en vierde lê Bridgton (40).
Evergreens spog met die gedugste pak voorspelers in die Superliga en dis hier waar sy agttal gewoonlik sy teenstanders sagmaak.
Dit sal Saterdag weer die geval wees en die uitslag van die kragmeting gaan grootliks bepaal word deur die kragvertoning van die tuisspan se vaste vyf.
Die wyse waarop Progress dié druk gaan hanteer, kan die verskil maak tussen 'n wen of 'n verloor. En dié druk gaan iets ysliks wees.
Progress kan natuurlik staatmaak op sy agterlyn se spoed en vaardigheid mits die manne balbesit kry om mee te speel. As hul balbesit gesmoor word, gaan dit 'n lang middag wees op die 'Graveyard'.
Vir Barbarians gaan sy stryd teen Blanco in die Gaatjie bepalend wees. Hy moet hier wen met volpunte - en dit in sy laaste wedstryd herhaal - as hy nog enigsins 'n aanspraak wil maak op die topvier in dié kompetisie. En natuurlik moet die boonste spanne iewers langs die pad lelik kleitrap.
Groot-Brak pak vir Crusaders op Greenhaven en beide spanne is kapabel en wys hulle kan die voorlopers na die kroon steek.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’