Daar is slegs enkele mense vandag vir wie hierdie nie beskrywings uit 'n Dalene Matthee-roman is nie, maar kosbare herinneringe aan 'n boswerkerslewe wat eens hul hele bestaan was.
So 'n legendariese persoon is 'Oom' Saag Stander, enigste oorlewende broer van die alombekende Stander-broers wat vereenselwig word met die Knysna van toeka se dae en steeds deur ZD Stander Vervoer 'n familie so deel is van Knysna soos die bos en die olifante self.
Oom Saag is in 1942 gebore in 'n plakkershut in 'n 'bosdorpie' met die naam van Veldmanspad, vertel hy met 'n stem wat na al die jare steeds die kleur dra van iemand wat grootgeword het waar boombas en groen, koel stiltes jou gedagtes raam.
Toe die bosskooltjies toegemaak en hulle dorp toe moes kom, onthou Oom Saag, het 'n juffrou dit kwytgeraak: "Julle Standers het nie leer in julle nie, maar julle kán werk!"
Hy was een van Chrisjan en Magdalena Stander se nege kinders, ses seuns en drie dogters. Sy pa het vellings, voor- en agtertange en speke vir ossewaens gekap.
"Ons het saam met ons pa gewerk van so vroeg af soos ek kan onthou. Ek weet dat ek aanvanklik as sewejarige net 'n trollievelling kon optel, maar ek kon nie 'n velling dra wat gebruik is om 'n ossewawiel mee te maak nie."
Hy onthou wel dat sy suster, Johanna (wat nou in Port Elizabeth woon), die sterkste vrou was wat hy ooit geken het.
"Sy kon twee vellings op haar skouers gelyk dra. As die jongetjies by die skool met haar skoor gesoek het, het sy hulle uitmekaar geslaan. Magtag, sy was 'n sterk meisiekind!" glimlag hy. Hy vertel sy ooms was ook bekend vir hul spierkrag.
"Hulle was blêrrie sterk - my een oom kon, as mense hom gehelp het om die voortang opgelig te kry, 'n kop uitloop en dan nog gaan staan en sy gulp oopmaak om te pie, netso met die voortang op die skouers!"
Hy vertel dat die dorpsmense op die boswerkers neergesien het.
"Soms het hulle vir ons uitgejô met 'Daar loop die bosboer!' en ons bietjie verag, maar ons het ons nie daaraan gesteur nie. "
Oom Saag onthou dat hy drie jaar lank in die bosskooltjie was en dat hulle smiddae na skool bos toe is om te gaan werk. Hy vertel ook dat hulle nie skool toe is wanneer die trein gekom het nie, want dan moes al die kinders help hout uit die bos dra tot op die sleeppad waar dit weer met die ossewa tot by die treinspoor vervoer is.
"Ons het nie masjienerie gehad daai dae nie. Alles is met die hand gelaai."
Na die bos in 1948/9 'toegemaak' is, het hul pa, Chrisjan vir Bosbou begin werk waar hy 1 Pond 10 per maand verdien het. Maar na 'n jaar het hulle nietemin daarin geslaag om hul eerste trokkie te koop, min wetende dat dit die voorganger sou wees van wat in die toekoms 'n welvarende familiebesigheid sou word. Oom Saag noem elke jaar op wat hulle nóg 'n trok bygekoop het. "Die tweede een was in 1955, toe die derde een in 1957," tel hy trots. "En in 1970, die eerste dubbel-aslorrie."
Kontak met die olifante
Die boswerkers het gereeld in die Standers se kinderdae met die olifante paaie gekruis. In Ysterhoutrug, onthou Oom Saag, het hy eenkeer vir sy pa gesê hy ruik 'perdemis'.
"My pa het gesê ek moenie nou die ander bang maak nie, maar ons kom toe op vars mis af. Ek was so sewe of agt jaar oud en ons was besig om 'n lorrie te laai in die aand. My pa het nie geglo aan daglig uitval nie en soms as die gier hul pak moes ons 'n vuur maak sodat hulle by die vlamlig kon verder werk."
Wanneer Chrisjan Stander met sy seuns in die bos was, het hulle in 'n sinkplaatskerm geslaap vir tot twee weke op 'n keer, of bo-op 'n breë, hoë boomstomp by Oudebrand, afhangende waar hul besig was om hout te maak.
Die boomstomp wat so reusagtige groot dat die olifante dit nie kon omstoot nie en ook nie die boswerkers bo-op met die slurp kon bykom om hulle patats of aartappels te gaps nie.
"Ons klomp was agter op die vrag toe ons sien hier is 'n ou grote nou digby ons - en my broer Adam druk die ligte dood want hy is bang by verblind die olifant, en ons ander agterop gil weer hy moet die ligte uittrek. Ons was so bang, ons hang aan die toue van die vrag aan die anderkant, maar gelukkig het hy net verby beweeg."
Die volgende oggend het dit hulle 'n halwe dag gevat om die pad oop te kap waar dié olifant die bome oor die pad afgebreek het.
So is daar talle staaltjies van die olifante, sommige vol humor en ander grusaam. Hul oupa se broer is in sy sinkplaatskerm saam met sy hondjie platgetrap deur 'n olifant toe hy per ongeluk sy slaapplek net mooi in die looppad van 'n olifant gaan maak het. "Hulle moes die volgende dag sy stukke met 'n kruiwa uitry," vertel Oom Saag ernstig.
Op 'n ander keer het een van die broers op 'n olifant geskree en toe moes die broers in die donker die hasepad kies om van die verwoede dier weg te kom. Iemand het 'n baadjie aangesteek dat hulle darem lig kon hê om die voetpaadjie te sien!
"Olifante het hul stappaaie deur die woud. As jy weet waar een is en jy wag daar, al sit jy vir ses maande en wag, jy sal hom uiteindelik sien want hulle gebruik dieselfde paadjies oor en oor. Jy moet hom net nie 'hênner' nie."
Die einde van 'n era
Die Standers het in 1960 Knysna-dorp toe getrek.
"Ja, dit was hartseer om die bos te verlaat, maar ons kinders was ook besig om groter te raak en daar was nie meisies in die bos nie," lag hy. "Daar was niks nie. Ons het groot geword omring deur die lieflike natuur. En al is my broers in die dorp begrawe, lê twee van my oupa's en een ouma in die bos waar die bome dik tussen die grafte staan. Daar lê seker 'n paar honderd bosmense daar."
Gevra of hy ooit nog in die bos kom of aan die olifante dink, sê hy dat hy darem onlangs in Goudveld was.
Hy is bekommerd oor als wat net verdwyn en hoe mense onbewus blyk te wees van die betekenisvolle geskiedenis, soos die fondasies van die klipmure van die Italiaanse krygsgevangenes se huise wat nog daar staan. En hul huis, asook sy ouma se huis wat alles gesloop is.
Oom Saag vryf oor sy hande terwyl sy vrou, 'Tannie' Rosie aan sy skouers vat. (Haar pa was ook 'n voorman in ou Bosbou, Alfred Aylward.)
"Dit was 'n anderste lewensstyl daai - daai mense het so min van 'n ding, maar as 'n boswerker gesien het jou suiker of jou brood is hard, dan bring hy vanaand vir jou die helfte van syne. As ek die krag gehad het, het ek môre teruggegaan."
Iewers, nie te ver van die bedrywighede van die moderne Knysna nie, betrag 'n paar oeroue oë die uitsig oor die woudhange en draai dan stadig om, om geruisloos in die wouddekking te verdwyn. Môre sal fietsryers weer op vars mis afkom.
Sien nog foto's hier.

'n Jong Saag Stander (links) met die 'mechanic' Dough Stevens by een van hul eerste dubbel-as lorries in die 1970's.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK, KNYNSA-PLETT HERALD-JOERNALIS