KNYSNA NUUS - Wat as 'n gewone Vrydagaand se kuier saam met kollegas begin het, het vir die Paulse-gesin in 'n nagmerrie geëindig.
"Ek glo 'n mens sal sterf volgens die pad wat vir jou uitgelê is," sê 'n verslae Kevin Hennies oor sy 35-jarige seun, Angelo Tersios Paulse, wat vroeg Saterdagoggend in 'n brand in Concordia omgekom het.
Die brand het omstreeks 06:00 in 'n woonstel onder Thy Will Ministries uitgebreek.
Volgens Hennies is die oorsaak van die brand nog onbekend. "Ek vermoed dit kon dalk 'n kortsluiting gewees het, maar in hierdie stadium is dit net bespiegeling."
Laaste kuier, laaste nag
Angelo se ma, Carol, vertel dat hy en kollegas van My Glass in Knysna Vrydagaand deur hul voormalige werkgewer na 'n werksafskeid genooi is nadat die onderneming aan nuwe eienaars verkoop is.
Na afloop van die geleentheid het die groep verder in Concordia gekuier.
Angelo het toe besluit om in die woonstel onder Thy Will Ministries oor te slaap - 'n plek waar hy vroeër gewoon het voordat hy na Hornlee verhuis het.
Kort ná sonsopkoms het inwoners rook by die woonstel sien uittrek. Hulle het onmiddellik vir Kevin gaan roep om ondersoek in te stel.
"Die rook was só dig, jy kon niks sien nie. Ons kon nie eers vasstel of daar iemand binne is nie," vertel hy.
Toe die brandweer opdaag en toegang tot die woonstel verkry, het hulle op Angelo se liggaam afgekom.
Hoewel die nadoodse ondersoek nog afgehandel moet word, het brandweermanne op die toneel vermoed dat rookinaseming moontlik die oorsaak van sy dood kon wees.
Sy ouers, 'n lewensmaat, 'n groot familie
Angelo laat sy ouers, drie kinders en 'n stiefdogter agter, asook sy lewensmaat van nege jaar, Moekie. Die paartjie het beplan om in Julie vanjaar te trou.
Benewens sy eie jong gesin was Angelo ook deel van 'n groot familie - een van 16 kinders.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar die familie hoop om dit vroeg volgende week te bevestig.
Intussen probeer 'n gebroke gesin sin maak van 'n oggend wat hul lewens vir altyd verander het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’