TUINROETE NUUS - Voorseisoense opwarmingswedstryde en -rugbytoernooie lewer nie altyd vermaaklike rugby op nie. Soms grens van dié kragmetings aan 'n los getjommel.
Die teendeel het homself egter die afgelope Saterdag op Outeniquapark in George afgespeel in die openingswedstryd in Multi-sure Corporation se rugbyfees tussen Knysna United en die All Blacks van Oudtshoorn en menige rugbyondersteuner se stoutste verwagtinge is oortref.
In 'n naelbytstryd, tekenend van 'n rugbyeindstryd, het Knysna United dié wedstryd in die doodsnikke met 35 - 34 gewen.
Dit was 'n riller op sy allerbeste en ondersteuners het vasgenael gesit om die tweestryd dop te hou.
Hier naby die einde het die spanne nog op 29 - 29 gelyk getrek en 'n onverdoelde drie deur die All Blacks het die telling na 34 - 29 gerek.
Maar, twee strafskoppe het die oorwinning uit die Oudshoorniete se hande geruk en Knysna en sy ondersteuners laat brul van plesier.
Die wenspan sal stellig glo dat hulle dié oorwinning verdien het. Twee drieë is 'foutiewelik' aan die All Blacks toegeken. Veral die drie waar Herschelle Manuel (vleuel) 'n speler van die All Blacks voor die doellyn plattrek en hy die bal duidelik verloor (sien foto), moes nooit toegeken gewees het nie. Maar dis gedane sake en deel van die spel.
Twee geel kaarte het Knysna se las heelwat swaarder gemaak, maar die manne het vasgebyt en dié ene deurgetrek.
Haal maar die hoed af vir beide die All Blacks en Knysna United - hulle het van meet af aan die krane oopgedraai en die toeskouers op goeie, aanvallende hardlooprugby getrakteer.
Ja, daar was foute aan albei kante, maar van onbeholpe hanteerwerk en aanslane, swak taktiese skopwerk en groot gapings in die verdediging was daar maar min te sien.
Desmond van Rooyen, hoofafrigter, het gesê hy was beïndruk met die goeie spel wat deur beide spanne opgedis is.
"Die wedstryd het duidelik gewys waar Knysna tans met hul spelpeil staan. Ons is reeds baie naby aan die vlak waar ons wil wees."
Hy sê wat die vertoning bemoedigend maak, is dat hulle met 12 nuwe spelers in die beginspan uitgedraf het. "Ons vaste vyf was uitstaande en het Knysna in die eerste helfte, veral in die skrums, laat klippe kou.
Die nuwe haker en slotpaar het goed by die span ingeskakel en in die vaste en losspel hul kant gebring."
Die losvoorspeler Akhanyile Swartbooi was verwoestend en het verskeie balle in die vaste los gesteel en ook soos 'n tier verdedig. Hy was iets ysliks.
"Maar," sê Van Rooyen, "die meeste spelers het meer as hul kant gebring. Ek is werklik tevrede met ons spel so vroeg in die seisoen."
Die ratse Jumeal Arends (skrumskakel) was op sy stukke en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Mshegu Bayolise (slot) was Knysna se beste voorspeler en Pieter Makellie (senter) die beste agterspeler.
Herschelle Manuel, blitsvleuel van Knysna United, duik die bal uit ’n All Black-speler se hande uit net voordat hy in die hoekie kon druk. Die drie is foutiewelik deur die skeidsregter toegeken. Foto's: Hugo Redelinghuys
BO: Jumeal Arends (skrumskakel) was op sy stukke en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. LINKS: Herschelle Manuel, blitsvleuel van Knysna United, duik die bal uit 'n All Black-speler se hande uit net voordat hy in die hoekie kon druk. Die drie is nogtans toegeken. Foto's: Hugo Redelinghuys
Shaun Saunders breek weg met die bal terwyl sy spanmaat Maxwell Kiewiets sake dophou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’