KNYSNA NEWS - Cameron Jantjies, voorsitter van die Wes-Kaapse Provinsiale Jeugmisdaadvoor-komingseenheid, het onlangs tydens 'n spog-geleentheid in Vishoek, Kaapstad, 'n spesiale toekenning vir uitmuntende gemeenskapsdiens van die provinsiale voorsitter van die GPF ontvang vir sy jare lange vrywillige werk en toewyding aan jeugveiligheid in die streek en provinsie.
"Vir my was dit die grootste eer om hierdie toekenning te ontvang. Al die jare se vrywillige werk en laatnag wakker wees was die moeite werd. Dit het my ook verseker dat die werk van die eenheid uiteindelik gesien word," sê Jantjies.
Een van die projekte wat Jantjies die naaste aan die hart lê, is die 16 Dae van Aktivisme-projek, wat in samewerking met die Knysna Youth Desk en House of Unity-jeug deur middel van drama en kuns aangebied is.
Jantjies se betrokkenheid by die jeugmisdaadvoorkomingseenheid en gemeenskapveiligheid spruit uit persoonlike ervaring. "Misdaad affekteer my direk en ek sien hoe geweld ons jongmense vernietig tot daar niks oor is nie. Werkloosheid lei tot dwelmmisbruik en dit breek my hart om te sien hoe jongmense in ons gemeenskappe in dwelms verstrik raak - tronk toe gaan ook."
Hy beklemtoon dat die eenheid se werk nie net oor wetstoepassing gaan nie, maar ook oor gemeenskapsbetrokkenheid.
"Ons bring die gemeenskap nader deur vennootskappe met plaaslike organisasies. Burgers kan bydra met enige beskikbare hulpbronne wat hulle het, en die jeug kan betrokke raak deur vrywillige diens by die plaaslike polisiestasies te doen."
Volgens Jantjies hang die sukses van enige gemeenskapsprojek af van volharding en 'n passie vir verandering. "Jy moet 'n hart hê vir jou gemeenskap en 'n verskil wil sien. Uithouvermoë is noodsaaklik, want niks verander oornag nie. Bly altyd positief. As jy geniet wat jy doen, kom alles natuurlik. Dit voel asof die legkaart net perfek inmekaar pas."
Die mentors en leiers by wie hy inspirasie en leiding ontvang, is onder andere Maurita Borchards, dr. Rodney Lewies, Sersant Marelda Abrahams (provinsie), adjudant-offisier Michael Opperman (distrik), sersant Curt Gendy en konstabel Luzanne Quine (Knysna-polisiestasie).
Sy visie vir die jeugmisdaadvoorkomingseenheid is duidelik: alle misdaadpleging deur jeug moet gestop word, en sy uiteindelike droom is 'n dwelmvrye jeug in die Wes-Kaap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’