KNYSNA NUUS - 'n Inwoner van Hornlee, Katrina de Wee, het haar misnoeë uitgespreek oor grassnysels wat volgens haar gereeld op sypaadjies en opritte in Wyk 6 agtergelaat word nadat die gras gesny is.
De Wee sê dat die gras verlede jaar, 2025, deur 'n span gekontrakteer deur die Knysna-munisipaliteit gesny is, maar dat daar sedert die begin geen werkende blaser beskikbaar was om die snysels van opritte en sypaadjies te verwyder nie.
"Die betrokke toesighouer het aan my gesê die blaser is stukkend en in vir herstel. Ons moes self ons opritte skoonvee," het sy gesê.
Volgens haar het die probleem die hele 2025 aangehou. Op 10 Februarie vanjaar het die span weer begin sny, maar die blaser was steeds nie beskikbaar nie.
De Wee het die aangeleentheid by die munisipaliteit aangemeld en ook foto's voorsien van opgeharkte, maar onopgetelde, gras. Teen 18 Februarie sê sy, het die gras steeds in die sypaadjies gelê, wat moontlik dreinering kan belemmer as dit reën.
De Wee sê sy hoop die saak sal spoedig aandag kry en dat toekomstige instandhoudingswerk behoorlik toegerus sal wees om opritte en sypaadjies skoon te hou.
Katrina de Wee
Knysna-munisipaliteit
Volgens die munisipaliteit is alle kontrakteurs vir grasnywerk kontraktueel verplig om 'n blaser in behoorlike werkende toestand te hê. Daarbenewens moet kontrakteurs sypaadjies en opritte hark om te verseker dat al die grassnysels verwyder word.
"Die kwessies wat deur inwoners uitgewys is, sal tydens die volgende operasionele vergadering in die eerste week van Maart met die twee kontrakteurs wat in Wyk 6 werk, bespreek word om te verseker dat die vereiste standaarde nagekom word.
Die munisipaliteit moedig die publiek aan om enige swak werk of soortgelyke voorvalle by die parke-departement te rapporteer by [email protected] of 044 302 6211 sodat dit vinnig aangespreek kan word."
Die betrokke kontrakteur kon nie vir kommentaar bereik word nie.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’