KNYSNA NUUS - Met armoede en werkloosheid wat landswyd toeneem, het Solidariteit Helpende Hand nou ook in Knysna ingegryp deur ’n plaaslike tak te stig. Hierdie tak sal deel vorm van Helpende Hand se meer as 160 landswye takke.
“Ons wil graag hoop en verligting aan die behoeftiges in die Knysna-gemeenskap bring,” sê Alisha de Lange, Helpende Hand streekorganiseerder in die Wes-kaap.
“Om vir ’n kind hoop te skep, om ’n jongmens te help studeer, of om ‘n bejaarde te bederf – dít is wat vir ons belangrik is.”
Helpende Hand het verskeie nasionale projekte wat behoeftiges, van baba tot bejaarde, se armoede verlig, voorkom en verbreek. Daarby loods elke tak ook plaaslike projekte op grond van die behoeftes wat in die gemeenskap geïdentifiseer word.
Projekte wat Helpende Hand graag in Knysna wil vestig, sluit in die nasionale Skooltassieprojek waartydens duisende skooltassies elke jaar aan behoeftige Graad 1-leerders regoor die land uitgedeel word. Verder word gefokus op voeding aan kleuterskole waar dit swaar gaan, asook sanitêre ware aan dogters.
Helpende Hand help ook met tersiêre opleiding na skool. Die organisasie se Studiefondssentrum het pas R42miljoen uitbetaal aan rentevrye studielenings om sodoende studente in 2020 ? kans te gee om ? tersiêre kwalifikasie te bekom.
“Helpende Hand is nie ’n organisasie wat net voortdurend kos en klere uitdeel nie,” sê De Lange. “Ons wil individue en gesinne ophef en in staat stel om hul eie lewensomstandighede te verbeter. Ons wil nie ’n klimaat van afhanklikheid daarstel nie, maar eerder persone help om vir hulself ’n beter toekoms te verseker.”
Enige persoon wat graag by Helpende Hand se Knysna-tak betrokke wil raak, kan ? e-pos stuur aan Alisha de Lange, Streeksorganiseerder Weskaap by alisha@helpendehand.co.za
Agter: Marlise Labuschagne (Assistent Streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap), Riana Appel, Hanlie King, Estelani Stander (Tak Sekretaresse), Riaan Stander (Ondervoorsitter). Voor: Wilma Snetler (Voorsitter) en Carla Viljoen (HH Maatskaplike werker).
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'