KNYSNA NUUS - Sowat 40 inwoners van Green Acres Valley in Hornlee het vanoggend (Dinsdag) vreedsaam na Knysna-munisipaliteit se kantore opgeruk om hul griewe te lug oor onder meer die woonbuurt se gebrek aan elektrisiteit.
Die woonbuurt bestaan uit sowat 45 gesinne wat volgens Desmond Sinclair, voorsitter van die Green Acres Valley-buurtkomitee, reeds vyf jaar sonder elektrisiteit is.
“Ons het al gereelde vergaderings met talle rolspelers gehad, maar tot dusver is daar nie aan ons pleidooie gehoor gegee nie,” het Sinclair gesê.
Hy sê inwoners het onder meer met die wyksraadslid, munisipale amptenare en die vorige munisipale bestuurder, Lulamile Mapholoba, oor die elektrifisering van die gebied vergader.
“By twee vergaderings met die vorige munisipale bestuurder is daar belowe dat Green Acres Valley eerste op die begrotingslys geplaas is. Van dié beloftes het net mooi niks gekom nie,” het hy gesê.
Die munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, Boy Manqoba Ngubo, het die inwoners aanvanklik buite die munisipale gebou toegespreek. Hulle het later na ’n lokaal verskuif toe ligte reën begin uitsak het.
Ngubo het hom tydens die vergadering kortliks verskoon om met munisipale amptenare te skakel en hom van die situasie te vergewis.
Hy het daarna aan die inwoners gesê dat hy en sy amptenare om 12:00 vandag persoonlik Green Acres Valley sou besoek om die omstandighede te inspekteer en die feite vas te stel.
“Ek kry die storie nou van verskillende mense af en wil my van die regte feite vergewis sodat ons ’n ingeligte besluit kan neem,” het Ngubo gesê.
“Sodra ek al die los drade bymekaar getrek het, kan ons ’n besluit neem oor die pad vorentoe en onsself daartoe verbind.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’