KNYSNA NEWS - Laerskool Knysna het sy Pave the Way-projek Maandagoggend, 21 September, by die saalbyeenkoms op 'n vrolike noot afgesluit met die aankondiging van die graadwenners.
Die gr. 7-leerders het met hul fondsinsameling 'n indrukwekkende R25 425 gekollekteer, wat aan hulle die wentjek van R15 000 besorg het. Die gr. 4's was algeheel tweede met R24 798, waarvoor hulle R10 000 ontvang het.
Die wenners moet die prysgeld aanwend vir 'n opvoedkundige projek van hul eie keuse. Nuwe matte, 'n vars laag verf vir 'n klaskamer of selfs 'n splinternuwe klimraam vir die skool is van die moontlikhede wat die leerders kan oorweeg voordat hulle besluit hoe om die geld te bestee.
Die Pave the Way-projek het altesaam R482 950 gekos. Hiervan is R156 343 deur skoolfondsinsamelings gedek, terwyl die res deur BackaBuddy en anonieme skenkings van inwoners van Knysna gefinansier is.
Nadat die koste van die plaveiprojek gedek is, is daar nog bykans R2 000 oor.
Die hoof van Laerskool Knysna, Ivor White, het die Knysna-gemeenskap hartlik bedank vir hul ruim bydraes en ondersteuning van die projek.
"Dit was 'n grootse spanpoging en sonder die inwoners se hulp sou ons beslis nie dié projek suksesvol kon voltooi het nie," het White gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’