SUID-KAAP NUUS - Volgens voorlopige terugvoer van die KKNK is die nuwe Kuierbuurt goed deur feesgangers, stalletjiehouers en ander operateurs ontvang.
JC Aucamp, bemarkingsbestuurder van Kunste Onbeperk, sê die bywoning was goed met groot gehore by die aandkonserte op die Huisgenoot-verhoog en verskeie vertonings was uitverkoop.
Die Oudtshoorn Courant wag nog op terugvoer van stalletjiehouers.
Terwyl die nuwe feesterrein in sommige opsigte positief is, is dit volgens alle aanduidings uiters negatief vir besighede en uitstallers wat in Baron van Reedestraat uitstal.
Waar die vorige feesterrein weerskante van St. Johnstraat beteken het dat bykans elke feesganger by kunsgalerye verbygestap het, was daar vanjaar bitter min voete.
Die Oudtshoorn Courant het met elf kunstenaars gesels wat jaar na jaar in persele in Baron van Reedestraat uitstal en volgens almal was vanjaar se fees die swakste ooit. Volgens een galeryeienaar, Alet Coetzer, wat reeds 25 jaar die galery besit, het die verskuiwing van die feesterrein groot verliese vir kunstenaars teweeggebring en sal daar dringend na maniere gekyk moet word om voete terug te kry.
Een van die uitstallers wat die afgelope 20 jaar 'n perseel huur het gesê hy was nie daarvan bewus dat die feesterrein gaan skuif toe hy sy planne gemaak het nie.
Volgens Niel Els, mede-eienaar van Turnberry Boutique Hotel, was daar baie minder mense langs sy hotel verby en daarom het sy kroeg- en kosverkope met 70% gedaal.
Die 25ste KKNK word van Donderdag 21 Maart tot Woensdag 27 Maart 2019 aangebied.