RHEENENDAL NUUS - Sowat 35 inwoners van Bibbieshoek het Maandag 9 Maart 'n huisvergadering bygewoon om hul bekom-mernis uit te spreek oor die optrede van 'n groep jongmense wat volgens inwoners die rustigheid in die skilderagtige nedersetting versteur.
Die inwoners beskuldig die groep van antisosiale gedrag en die gebruik van dwelms, insluitend tik.
'n Paar inwoners met wie die Knysna-Plett Herald Maandagmiddag gesels het, sê die rustigheid en vrede van Bibbieshoek is deur hierdie vermeende jong dwelmgebruikers versteur. Baie leef in vrees en spanning oor wat moontlik met hulle kan gebeur.
Hester Stols sê die situasie het onhoudbaar geword. Sy slaap sleg en moet kort-kort oor haar skouer loer. "Mens kan nie so aangaan nie."
Abraham Booysen beaam dit en voeg by: "Die voorheen vreedsame gemeenskap van Bibbieshoek het nou ontspoor. Die lekkerte van Bibbieshoek is weg."
Nog 'n inwoner, Zidane Stroebel, sê die omstandighede het van "veilig" na "baie onveilig" verander. "Mens weet nie wat om te verwag nie. Die ergste is dat jong kinders betrek en beïnvloed word en gereeld blootgestel word aan skeltaal en dwelms."
Nicolene Brits sê dat die probleme veral oor naweke kop uitsteek wanneer die jongmense die huis besoek: "Hier gaan iemand nog baie seerkry."
Anton Rossouw vertel op sy beurt dat hy onlangs deur een van hierdie jongmense aangeval is toe hy in sy bakkie gery het.
'n Vuishou het hom deur die oop ruit aan die bestuurderkant getref.
"Ek het absoluut niks aan die man gedoen nie. Hy het my uit die bloute geslaan. My gesig was opgeswel en ek was potblou geslaan," sê hy.
"Ek wou nie 'n saak by die polisie aan-hangig maak nie, maar wou dit net onder die inwoners se aandag bring. Eendag gaan iemand nog hier lelik seerkry. Ek weet nie hoekom SANParks so sloer met 'n oplossing vir die situasie nie. Wat gaan SANParks doen as besoekers by die park aangeval en beseer word?" Hy sê hy vrees daagliks dat sy vrou, Adell, en jong dogter, Anell, iets kan oorkom. "So kan dit nie aangaan nie."
Teen druktyd het SANParks nie op Knys-na-Plett Herald se navraag gereageer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’