SUID-KAAP NUUS - Laer- en hoërskoolkore in die Suid-Kaapstreek kry die unieke geleentheid om op 23 Mei 2024 vir die eerste keer aan die oudste skoolkoorkompetisie in die land deel te neem, naamlik die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) Applous-koorkompetisie hier in George.
Hierdie geleentheid bied aan leerders van laer en hoërskoolkore in die Suid-Kaap die kans om hul liefde vir Afrikaanse koorsang aan gehore in George bekend te stel. Die plaaslike kamerkoor van George, Eden Camerata, en die George-musiekvereniging, in samewerking met die ATKV, bied die streekfees in George aan, wat tans beplan word om in die NG Moederkerk plaas te vind.
Voorgeskrewe werke vir die kompetisie is sedert 30 November op die ATKV Applous-webwerf beskikbaar wees.
Uitgebreide inligting oor deelname, inskrywingsgeld, bestelling van voorgeskrewe werke, evaluering, die finaal, toekennings, program, voorgeskrewe werke, reëls, wet op outeursreg, en Popi is beskikbaar in die brosjure. Die brosjure bevat ook die inskrywingsvorm vir 2024 en kan hier gevind word.
Volwasse, gemeenskaps- en streekkore kan ook inskryf, maar hulle neem deel in 'n nie-mededingende afdeling en ontvang 'n deelnamesertifikaat, sowel as 'n volledige verslag van elke beoordelaar.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 28 Februarie 2024, en dit moet direk na die ATKV gestuur word. Die finaal vind vanaf 24 tot 27 Julie 2024 in die Kaapstad-stadsaal plaas.
Navrae kan gerig word aan applous@atkv.org.za
Verdere logistieke reëlings met betrekking tot die aanbieding van die geleentheid in George sal later deur die plaaslike organiseerders aan deelnemende skole en ander deelnemers gestuur word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’