KNYSNA NUUS - AfriForum se Knysna-tak het onlangs vyf volledig toegeruste gereedskapkiste met loodgieterstoerusting aan die Knysna Munisipaliteit se direkteur van infrastruktuurdienste, Reggie Wesso, oorhandig.
Dié toerusting sal die munisipaliteit se loodgieterspanne bemagtig om waterlekkasies en stukkende pype vinnig en doeltreffend aan te spreek.
Volgens AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, Marthinus Erasmus, is die doel van die skenking om te verseker dat die munisipale spanne alles het wat hulle nodig het om dringende herstelwerk sonder vertragings te doen.
"In 'n tyd waar elke druppel water tel, is dit noodsaaklik dat tegniese spanne vinnig en effektief kan optree," sê Erasmus.
Die bydrae vorm deel van AfriForum se volgehoue pogings om plaaslike dienslewering te ondersteun en praktiese oplossings vir infrastruktuur-uitdagings te help realiseer. Erasmus sê hy is vol vertroue dat 'n formele samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die munisipaliteit binnekort gesluit sal word.
Só 'n ooreenkoms sal gestruktureerde samewerking, aanspreek-likheid en volhoubare ondersteuning moontlik maak.
"AfriForum glo dat volhoubare dienslewering net moontlik is wanneer gemeenskappe en munisipaliteite doelgerig saamwerk. Wanneer hulpbronne gedeel en kundigheid benut word, kan ons werklik 'n verskil maak. Ons Knysna-tak staan gereed om deel van hierdie langtermynoplossing te wees," sê Erasmus.
AfriForum moedig inwoners aan om betrokke te raak by projekte wat 'n kultuur van selfdoen en samewerking bevorder.
Sluit vandag by die Knysna-tak aan via e-pos: [email protected] of skakel 081 216 9602.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’