KNYSNA NUUS - AfriForum Jeug se Knysna-tak het onlangs 'n pragtige sandput vir die Little Steps-kleuterskool in Karatara gebou.
Lede van die jeug-tak en vrywilligers uit die omgewing het saamgespan om 'n veilige, vrolike speelruimte vir die kleuters te skep.
Die Helpende Hand Ons Winkel in Knysna en Sedgefield het ook speelgoed ingesamel waarmee die kleuters in hul nuwe sandput kan speel.
Hierdie speelgoed is die afgelope naweek in 'n speelgoedboks by die kleuterskool afgelewer.
"Ons glo dat elke kind 'n veilige en vreugdevolle ruimte verdien om te speel en ons is opgewonde om 'n positiewe bydrae tot die Little Steps-kleuterskool se omgewing te maak. Dit is klein aksies soos hierdie wat 'n groot impak op ons gemeenskappe kan hê," sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeugbeampte vir strukture.
Volgens Martinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is die bou van hierdie sandput net een voorbeeld van hoe AfriForum Jeug in die Suid-Kaap betrokke raak om 'n verskil te maak.
"Hierdie tipe inisiatiewe is die sleutel tot die bou van sterk gemeenskappe en 'n beter toekoms vir ons kinders."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’