KNYSNA NUUS - Oor meer as 'n eeu het Thandiwe Lucy Nguzo die wêreld dramaties sien verander: van die dae van radio's en perdekarre tot slimfone, kunsmatige intelligensie en video-oproepe.
Maar vir die 103-jarige inwoner van Vermont-aftreeoord in Knysna het die belangrikste dinge in die lewe nog nooit verander nie: haar geloof, haar vriende en die eenvoudige vreugdes van elke dag.
Lucy, wat op 12 Junie 1923 in Knysna gebore is en hier grootgeword het, het nie 'n ingewikkelde resep vir 'n lang lewe nie.
"Ek het net aangehou leef," sê sy eenvoudig.
Haar dae verloop rustig. Ná ontbyt sit sy graag saam met vriende buite in die son, of sy keer terug na haar kamer waar sy na die radio of televisie luister.
Hoewel sy baie lief is vir breiwerk, het swak sig gemaak dat sy dit nie meer so gereeld kan doen nie.
Maar dit is haar lewendige persoonlikheid wat haar só besonders maak.
Personeel beskryf "Ant Lucy" as 'n liefdevolle, intelligente en unieke mens wat daarvan hou om met almal te gesels - veral in haar moedertaal, Xhosa. Sy ken elke personeellid op die naam, is nuuskierig oor wat in die wêreld aangaan en skroom nie om vrae te vra nie.
Sy is ook bekend vir haar sin vir humor.
"Sy is 'n regte platjie; vertel graag grappies en bak soms poetse op ander. Maar sy kan net so streng wees wanneer dit nodig is," vertel die personeel.
Een ding is seker: Lucy draai nie doekies om nie. Sy sê 'n ding soos dit is en is nooit bang om haar mening te lug nie.
Personeel beskryf haar ook as besonder netjies. Haar voorkoms is vir haar belangrik en daar word grappenderwys gesê sy kan altyd "deur 'n ring getrek word". Selfs haar kopbedekking moet presies reg wees.
Nog iets wat haar kenmerk, is haar liefde vir sang. Of dit nou tydens godsdiensbyeenkomste of sommer net deur die dag is, Lucy sing gereeld en met oorgawe.
Sy is ook lief vir soetigheid, veral lekker soet beskuitjies.
Haar 103de verjaardag is onlangs saam met personeel en mede-inwoners gevier. Hulle het vir haar gesing, haar met 'n groot koek verras en sy het ook vriende van die St. Peter's Katolieke Kerk genooi om die dag saam met haar deur te bring.
Hoewel sy geen kinders het nie en haar naaste familie uit 'n broer en 'n niggie bestaan, is dit duidelik dat Lucy deel is van 'n groter familie by Vermont-aftreeoord.
Vir Erylene Levendal-Bosman is daar drie woorde wat haar die beste beskryf: Godvresend, uniek en liefdevol.
En dalk is dit juis die geheim van Lucy Nguzo - nie 'n spesiale dieet of streng roetine nie, maar 'n lewe van geloof, lag, sang en die vermoë om elke dag eenvoudig aan te hou leef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’