PLETTENBERGBAAI NUUS - Die gemeenskap van Wittedrift is in rou ná die dood van Johannes Kruger (67), 'n geliefde en afgetrede inwoner wat Vrydagmiddag, 28 November, gesterf het toe hy deur 'n voertuig raakgery is.
Die voorval het omstreeks 15:00 op die Wittedrift-stofpad plaasgevind. Die bestuurder van 'n wit BMW was vermoedelik onder die invloed van alkohol toe die voertuig buite beheer geraak het, deur die heining langs die begraafplaas gebars het en tot stilstand gekom het.
Clive Kamfer, Kruger se seun, was een van die eerste familielede op die toneel. Hy vertel dat hy op pad was om sy niggie by haar werk in Keurboomstrand te gaan haal toe hy die ongeluk opmerk. "Ek het nie 'n goeie gevoel gehad oor hierdie ongeluk nie," sê hy. "Toe ek verbyry, sê iets vir my ek moet terugdraai."
Toe Kamfer terugkeer, het hy tussen die puin en voertuie 'n fiets sien lê. "Ek het dit onmiddellik herken. Ek het geweet dis my pa s'n. Daardie oomblik het my wêreld tot stilstand gekom. Ek het geweet hy is weg."
Nooddienspersoneel en die polisie het vinnig by die toneel opgedaag. Die bestuur-der van die BMW was vasgekeer in die voertuig en moes deur reddingspersoneel bevry word. "Ek weet nie watter beserings hy alles opgedoen het nie," sê Kamfer, "maar ek het gesien hy was vol bloed aan die kant van sy gesig en nek."
Die bestuurder is in hegtenis geneem en het Maandag 1 Desember in die hof in Plettenbergbaai verskyn. Die saak is uitgestel vir 'n formele borgaansoek wat op Dinsdag 2 Desember hervat sou word. Knysna-Plett Herald wag steeds op amptelike kommentaar van die polisie, asook bevestiging van die klagte teen die bestuurder.
Gemeenskap toon steun
Bitou Munisipaliteit het op sy Facebook-blad sy medelye aan die Kruger-familie en die Wittedrift-gemeenskap betuig. Volgens Kamfer is die nadoodse ondersoek nog nie voltooi nie en is die begrafnisreëlings gevolglik nog nie gefinaliseer nie.
'n Maand van pyn
Kamfer vertel dat November vir hom nog altyd 'n moeilike maand is. "Ek het tien jaar terug my ma verloor, drie dae voor my verjaarsdag … en nou het ek my pa verloor, vyf dae ná my verjaarsdag. Kan jy jou indink hoe dit voel?"
'n Lewe op twee wiele
Al was Kruger afgetree, het hy klein werkies in die dorp gedoen om hom besig te hou. Hy was met sy fiets op pad huis toe toe die ongeluk plaasgevind het. "My pa was baie lief om fiets te ry," sê Kamfer. "Hy het nie ver gebly van waar hy gewerk het nie. Hy het vir jare lank net fiets gery voordat hy later besluit het om sy eerste voertuig te koop."
Die gemeenskap beskryf Kruger as 'n rustige, nederige en liefdevolle man wat 'n groot leemte sal laat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’