LEWENSSTYL NUUS - Met inperking wat net voor Paasnaweek met nog twee weke verleng is, is dit nóú die tyd vir innovering.
Ons is in die middel van die vyf week lange grendelperiode om Covid-19 hok te slaan. Dis 'n baie drastiese stap wat oor die wêreld heen deur verskillende lande toegepas word, omdat die virus vinnig versprei.
Die meerderheid mense wat baie gehoorsaam in hul huise die dae deurbring, sal nou inisiatief aan die dag moet lê voor inperking aan hulle begin knaag.
Suid-Afrikaners is mense vir die buitelewe. Hulle geniet rugby en ander sportsoorte, stap in die berge, vang vis, kamp by die see of sommer langs 'n stroompie en is oor die algemeen lewenslustig, gesond en gereed vir 'n uitdaging. Inperking vir nog twee weke kan dus vir sommige gesinne baie moeilik wees.
Die BBC se gratis aanlyn ondersteuningsbron vir skoolgaande kinders, Bitesize, het 'n reeks saamgestel wat diegene wat al geïrriteerd begin raak, behoort te lees.
Die eerste aanbevelings is vir mense wat in dieselfde huis woon. Hulle word aangeraai om 'n spesiale poging aan te wend om met mekaar oor die weg te kom. Die angsbeheer deskundige, Joshua Fletcher, met wie BBC gesels het, beveel aan dat vrede gemaak moet word daarmee dat almal vir 'n lang tyd saam in die huis gaan wees. Dis nou jou nuwe wêreld. Dis 'n veilige plek vir die familie. Maak seker dat almal goed verstaan hoe om hulself virusvry te hou. Maak saam-saam planne om die dae vir almal aangenaam te maak. Pak nuwe uitdagings aan. Mans kan byvoorbeeld leer kos maak. Kinders kan in 'n roetine kom deur soggens 'n paar uur aan skoolwerk te wy, onder volwasse toesig. Min gesinne het deesdae kans om gehalte tyd met mekaar deur te bring. Gryp die geleentheid aan, wees kreatief en hou die kinders besig.
Fletcher sê dis belangrik om almal se persoonlike ruimte te respekteer. Almal sal inperking op hul eie manier verwerk. Laat toe dat iemand vir 'n tydjie alleen eenkant sit en iets doen. Almal moet egter saam ontbyt eet, vir aandete almal saam by die tafel aansit en lank na ete nog sit en gesels. Op die manier word die gesin sterker en groei nader aan mekaar, veilig teen die gevaar wat buite skuil.
Met gesinne wat in kleiner huisies of in informele nedersettings bly sal dit moeiliker gaan. Daar is min sprake van sosiale afstand hou - huise is teen mekaar gebou met nou gangetjies tussenin. In sommige opslaanhuisies bly tot vyf mense, wat skoolgaande kinders insluit. Water moet buite gehaal word. Die maatreëls wat elke dag deur ons ministers beklemtoon word, verdwyn in die niet as mens op televisie die lang toue mense voor die winkels sien wag om hul Sassa-geld te kry, om nie eens te praat van die talle mense in party woonbuurte wat voortgaan asof die dodelike koronavirus nie bestaan nie.
In 'n tyd soos dié kan niemand verantwoordelik gehou word vir ander mense se roekelose gedrag nie. Dis net baie jammer dat een persoon se roekeloosheid die dood van 'n ander wetsgehoorsame burger kan beteken. - Bron: Looking after your mental well-being while at home. BBC Bitesize - 2020
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'