LEEFSTYL NUUS - Miljoene mense se lewens het in 'n oogwink verander sedert die koronavirus wêreldwyd versprei het.
Kinders is oornag van hul vryheid en kindwees ontneem. Hulle kyk nou na 'n wêreld vanuit 'n vreemde perspektief.
'n Wêreld waar almal gesigmaskers dra en mense se hande oor-en-oor met ontsmettingsmiddels gespuit word. Kinders mag nie meer in die strate speel nie en skole is gesluit. Hulle sien nie hulle maatjies nie. Daar is 'n besef dat alles verander het as gevolg van die koronavirus. Vir jong kinders is dit 'n moeilike konsep om te verstaan en selfs ouer kinders wat al meer begrip het vir die omstandighede, sit met hulle eie frustrasies.
Terwyl volwassenes skarrel om self sin te maak uit die tuimelende ekonomie en uitdagende finansiële situasie, is die toekoms van ons land, dus ons kinders, besig om ons fyn dop te hou.
Praat met jou kind
'n Sielkundige van George, Carien Brown sê die probleem met die huidige situasie is dat daar geen bloudruk is om ouers leiding te gee oor hoe om die pandemie met hul kinders te bespreek nie.
Omdat die pandemie aan almal onbekend is, is daar geen handleiding oor hoe om te maak nie.
"Elke kind kan ook nie dieselfde hanteer word nie. Elke kind het 'n unieke profiel en die hanteringstyle moet aangepas word daarvolgens," sê Brown.
Brown sê indien 'n gesin uit drie kinders bestaan, ouers nie tydens 'n gespreksessie vir almal dieselfde inligting kan gee nie. "Ouers moet met baie wysheid die risikofaktore van die pandemie met die kinders bespreek."Kinders wat reeds onder behandeling vir angs of depressie is, kan tydens fase vier voortgaan met terapeutiese ondersteuning. Brown sê dit is belangrik om te onthou dat 'n sekere mate van angs en spanning tydens die inperking normaal is.
"Hou jou kind dop en monitor jou kind. Indien jy bekommer is, skakel jou huisdokter vir 'n verwysing na 'n sielkundige." Sy sê dit is belangrik om ook die beste van die tyd saam te probeer maak.
Maak dit pret
"Mens hoor soveel mooi stories ook, van gesinne wat die geleentheid benut om weer tyd met mekaar te spandeer."
Brown stel voor ouers laat hul kinders toe om die drie ure oefentydperk soggens te benut. "Maar uit die aard van die saak sal tieners dalk eerder later wil slaap. Handhaaf dus 'n gesonde roetine en moedig die kinders aan om te oefen maar moenie te rigied wees nie."
Sy stel voor dat gesinne gesamentlike familiedagboeke maak. "Veral vir jonger kinders is dit 'n lekker aktiwiteit. Skryf die dag se gebeure neer en teken sketse. Hou jou kind dop en kry hulp indien jy in die toekoms voel jou kind het dit nodig."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'