Daar is ook die geleentheid vir voue wat in veilige huise bly, om vir ‘n dag lank soos ‘n koningin behandel te word.
Die meeste vroue droom daarvan om van kop tot tone gepamperlang te word - en vir baie bly dit net altyd ‘n droom!
Vir Falencia Goba van Oudtshoorn het hierdie droom waar geword. Sy is die eerste gelukkige veilige huis inwoner wat vanjaar op ‘n spesiale mooimaak-sessie getrakteer is as deel van die mooimaak-projek. Falencia is ‘n inwoner van die Malibongwe Veilige Huis op Oudtshoorn.
Sy is ook die eerste deelnemer in die mooimaak-kompetisie waar vier inwoners van elk van die vier veilige huise in die streek, mooigemaak en bederf word.
Die inisiatief kom van me Tryana Potgieter, koördineerder van die projek wat deur die Garden Route Casino op Mosselbaai gedryf word.
Inwoners van Phambili op George sal ook binnekort hierdie bederfsessies meemaak. Plaaslike ondernemings verskaf hul dienste en klere gratis vir hierdie vroue.
Op 1 Oktober vind die gala-aand by die Pinnacle Point Strand- en Gholfoord op Mosselbaai plaas en word die nuwe "Gesig van Toerisme" in die Suid-Kaap bekroon. Die wenner deel in pryse van meer as R200 000 en sy kry ook outomaties ‘n geleent-heid om aan die Mej. SA-kompetisie se streekuitdunne deel te neem. Al die fondse wat deur die kaartjie verkope geïn word, word tussen die vier huise verdeel.
Falencia se klere vir die dag is deur Langeberg Mall op Mosselbaai geborg. Na die oormaak-sessie is Falencia deur Arona Weideman van Nostalgie op 'n heerlike ontbyt getrakteer. Falencia sê dat sy die dag baie geniet het en dat dit vir haar ongelooflik was om te sien hoe sy voor haar eie oë in 'n pragtige swaan verander het.
Vir meer besonderhede rondom hierdie gemeenskapsprojek besoek gerus www.gardenroutecasino.co.za of skakel Tryana by 044 606 7777.
.jpg)
Die persone wat betrokke was om Falencia se dag spesiaal te maak. Willmac Kammies van The Hair and Beauty Shop wat vir die hare verantwoordelik was, Deidré Swarts van Exclusively You Body, Nail and Skin Care, Falencia en Verité Ann du Toit van Panache Akademie vir Afronding en Personeelopleiding wat hierdie projek op Oudtshoorn koördineer.