LEWENSTYL - Hy wou Frans leer. Want Frans is die klassieke taal van die wêreld se baanbreker-wynbouers. En hy is immers ‘n keldermeester.
Boonop is sy van De Klerk, en sy voorsate het in 1688 hier aan’t Kaap voet aan wal gesit en die kuns van die wingerdstok met hulle saamgebring.
En toe leer hy Frans.
Maar eintlik was daar ‘n ander rede hoekom hy die taal van passie, misterie en romantiek bemeester het: die liefde.
Want Pierre de Klerk het verlief geraak op ‘n Franse meisie en boonop was haar pa ‘n wynmaker van die befaamde landgoed, Bernard Breuzon.
De Klerk, die keldermeester van Graham Beck, het onlangs die Agulhas Erfenis-vereniging getrakteer met wynstories uit sy skatkis van 15 jaar by die Beck-familie.
En die vonkelwyn het behoorlik gevloei… Mens mag dit nie sjampanje noem nie, want as jy nou ‘n volbloed Fransman na sy swaard wil laat gryp, moet jy praat van “champagne” as jy jou eie land se produk bedoel.
Sien, die egte ware Jakob kry jy net in die Champagne-streek van Frankryk en hulle het lewenslange eksklusiewe regte op dáárdie naam.
Franse kom leer op ons wynplase
“Ons het ‘n wonderlike interaksie met die Franse wynmeesters. Hulle stuur hul mense om hier op ons plase te werk. Ons leer van mekaar. Ons weet byvoorbeeld meer van waterbestuur as hulle, want ons is genoodsaak om te besproei omdat ons in hier die droë Afrika-wyn verbou, terwyl hulle eintlik meer water het as wat hulle kan gebruik. Ons gebruik drupbesproeiing - ‘n ding wat in Frankryk ongehoord is. Drupbesproeiing gee jou groter akkuraatheid met jou watertoediening.”
Die Franse meesters gebruik al jare der jare die ge-eikte* 'méthode traditionnelle': die gerespekteerde manier om die beste uit jou druif te kry.
“Toe besluit ons ons gaan ‘n Franse naam behou, maar ons gaan ons ons produk Cap Classique noem.”
Hierdie vindingryke naam het onmiddellik byval gevind. “Cap” is nie net die Frans vir “Kaap” nie, maar beteken ook “koers” of “rigting”.
Die Beck-landgoed laat in 1991 sy eerste oesprodukte die lig sien. Hulle begin met twee Cap Classiques, ‘n Brut NV en ‘n Blanc de Blanc asook ‘n witwyn (Waterside White) en ‘n rooiwyn (Railroad Red).
Teen 2010 was daar 38 verskillende wyne, maar in 2014 het die familie besluit om hulle eerder net op Cap Classique te fokus, en is hulle stilwyne in 2015 en 2016 uitgefasseer. Sedert 2017 produseer hulle slegs Cap Classique.
Suid-Afrika het inderdaad nuwe rigting gegee aan wynbou op die kontinent. Vandag stoot Graham Beck ‘n verstommende twee en ‘n half miljoen bottels van hul gesogte produk in die mark. “En ons Cap Classique word gemaak van ‘n nie-tradisonele kultivar.”
De Klerk trippel ligvoets deur begrippe soos gisting, temperatuur, kultivars, grondtipes, C02 en veredeling, en onthul dat 'n wynmaker wat sy sout werd is 'n verstommende 250 individuele komponente in ‘n wyn moet kan indentifiseer.
Elke wynmaker het sy eie benadering en probeer sy eie stempel afdruk. “As daar ‘n verandering van wynmaker is, kry jy onvermydelik ‘n verandering in die styl van die wyn.”
Dit behels egter baie harde en uitdagende werk. “Ons maak nie wyn van water nie!” skerts hy. Oor terroir huldig hy die volgende mening: “Daar is vier kritiese elemente wat deurslaggewend is: grondtipe, klimaat, vintage en die mens self.”
Pluk druiwe in die nag
Op sy wynplaas word daar in die nag gepluk. Om dit te bewerkstellig, was op sigself ‘n reusedeurbraak in nywerheidsbetrekkinge. Die wingerd word soos ‘n baba vertroetel. “As jou plant stres, verloor hy suur, temperatuur en dehidreer hy,” verduidelik hierdie Stellenbosser, wat die gehoor onomwonde laat verstaan dat Robertson “absoluut uniek geleë is” vir die verbouing van die geliefde chardornnay.
Ja, Suid-Afrika kan met die bestes ter wêreld saamgesels en ons welbekende pinotage is byvoorbeeld ‘n unieke wyn wat hier ontwikkel is.*
Op die onlangse International Wine and Spirits Competition (IWSC) in Engeland, het Graham Beck tweede plek behaal. “Dis natuurlik ‘n groot eer, maar ons weet ons is eintlik die beste!”
Pierre de Klerk is nie net ‘n keldermeester nie: hy is ook verantwoordelik vir bemarking en reis geweldig baie om nuwe markte te ontsluit. Intussen leer hy as wêreldburger van ander gebruike en kulture en deel hy sy omvangryke kennis graag.
“As jy ‘n savant in wynbou wil wees, moet jy ‘n passie daarvoor hê, anders bevind jy jouself in die verkeerde beroep. Wyn is my passie, en ek fokus daarop. Ek isoleer myself van die geraas en lawaai daarbuite. Die grootste four wat jy kan maak, is om grootkop te raak.”
Hoe het dit alles begin?
“Hulle stuur my in 2006 na Epernay vir ‘n internasionale techno-wynboukongres. Dit was die sleutel tot my connection Francaise.. .”
En Madame De Klerk?
“Ek het Julie in Oktober 2011 ontmoet. Sy het in 2012 hier kom werk as ‘n parser en sommer gebly! Ons is in Oktober 2016 getroud.”
Soos dit ‘n nooi Breuzon betaam, pas haar van by haar bruisende persoonlikheid. En haar pa was die brein agter die beroemde Champagne Bernard Breuzon.
Hierdie ontmoeting was ‘n lewensveranderende oomblik vir hierdie Paul Roos-man wat met ‘n graad in BSc Agric van Stellenbosch spog. Daarna het sy Frans met rasse skrede verbeter!
Die egpaar het ‘n vakansiehuis op Suiderstrand en het drie kinders: Louis (8), Tristan (7) en Charlize (6). En al drie praat perfekte Frans, Afrikaans en Engels.
Die voorsitter van die erfenisvereniging en wynconnoisseur, Danie Schutte, ook van Suiderstrand, het Pierre bedank - nie net vir sy prikkelende praatjie nie, maar ook vir wat hy vir Suid-Afrika beteken.
*Voetnotas:
*De Klerk en sy span gebruik egte Franse eikvaatjies (futs du chêne) in hul veredelingsproses.
*Tydens die skrywer se verblyf in Frankryk gedurende 2004-2014, was daar Suid-Afrikaanse pinotage te koop aangebied in kettingwinkels soos LeClerc, Intermarche, CarreFour en Champion, teen 2 Euros per bottel, wat op daardie stadium R20 was!
Die skrywer van hierdie artikel, Pierre Massyn, is ‘n Franse burger van Suiderstrand met ‘n voorliefde vir die vrug van die wingerdstok.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’