GEORGE SAKE NUUS - Voltex in George bied deesdae baie meer as elektriese bybehore en ligte. Die maatskappy het onlangs ‘n indrukwekkende en sentrale vertoonlokaal in George geopen waar hulle voortaan ‘n omvattende reeks dienste as groothandelaar lewer.
Die maatskappy het ook sy bedrywighede uitgebrei om elektrisiteitsbesparing aan te moedig.
Toerusting vir verhitting en ander gebruike word nou gebied wat volle waarde uit Eskom se hulppakkette sal ontvang om elektrisiteit te bespaar.
"Dit is egter ‘n proses wat reg van die begin af gevolg moet word en dit kan verwarrend of ingewikkeld wees. Ons staan kliënte in die boubedryf by om hierdie faset in hul beplanning al in te sluit," het mnr. Ozzie van Oosten van Voltex in sy verwelkoming aan gaste gesê.
Hy het ook gesê die kundige span van Voltex is goed opgelei om hulp te verleen.
Die verskeidenheid van kragbesparings-produkte is deur Voltex se streekbestuurder, Adriaan van der Vyver, aan die gaste vertoon en kortliks beskryf.
Hy het hulle genooi om hul voorstelle en behoeftes met Voltex te bespreek sodat oplossings vroegtydig gekry kan word.