GEORGE NUUS - Die skoonheid en historiese waarde van die ou tolhuis en omliggende omgewing, word danksy 'n nuwe TV-reeks aan 'n nasionale gehoor op televisie bekendgestel.
Opnames wat deel vorm van Op soek na Eden is op 4 Maart by die tolhuis in die Montagupas gemaak. Dit is 'n reeks van 13 episodes van 30 minute elk.
Dit sal moontlik in Augustus op die VIA-kanaal 147 uitgesaai word. Dit gaan oor elkeen se reis in die soeke na die plek wat hom/haar gelukkig maak.
Die tolhuis is in 1845 op die Montagupas gebou en het in 2018 afgebrand. Dit is daarna herstel en gerestoureer danksy die Vriende van die Tolhuis met Gerda Stols as voorsitter van die organisasie, en die gemeenskap van George.
Die reeks word deur Garden Route Media vervaardig. Anton Treurnich van die maatskappy, bygestaan deur Cara Botha, het kort na die opnames by die tolhuis gesê elke episode het 'n tema.
Lede van Garden Route Media besig om met Gerda Stols, voorsitter van Vriende van die Tolhuis te gesels tydens opnames vir die nuwe televisiereeks.
Die spesifieke episode gaan oor bergpasse. Mense ry deur George om by hul vakansiebestemmings te kom. Met die reeks gaan gepoog word om te wys hier is baie om te sien.
Die storie van die tolhuis word deur bergpasse vertel. Treurnich hou self van die tolhuis en het dit al voor die brande in 2018 besoek.
Botha sê dit is ook deel van planne om die Tuinroete as filmbestemming te vestig waar produksies gemaak en aanmekaar gesit kan word.
Lees meer op susterskoerant, George Herald
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'