Conville en Plettenbergbaai gaan gebuk onder ekonomiese misdrywe soos huisbrake, huisrooftogte en alle diefstalle asook geweldsmisdade waaronder aanrandings, verkragtings, moorde en gesinsgeweld. Op Knysna kom veral baie huisbrake, huisrooftogte en diefstal voor.
Lt.genl. Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiehoof, het die inligting verlede Vrydag op 'n media konferensie in George bekend gemaak waar hy ook oor die polisiëringstrategie vir die Suid-Kaap gepraat het.
Volgens lt.genl. Lamoer gaan die 23 stasies met valkoë gemonitor word om seker te maak dat doelwitte bereik word.
"Waar en indien nodig sal bystand verleen word. Hulpbronne is altyd in aanvraag en dit is daar, maar die antwoord lê in beter bestuur van die hulpbronne," het Lamoer gesê.
Die polisie gaan as deel van die polisiëringstrategie fokus op drankbeheer, dwelms, vuurwapens en misdade teen vroue en kinders. Hierdie vier misdade is tans die prioriteitsmisdade in die provinsie.
Drank is 'n groot probleem in die Wes-Kaap. Drankmisbruik speel ook 'n groot rol in die hoë voorkoms van seksuele misdade in die provinsie en George is nie 'n uitsondering nie.
Die polisie beplan om alle drankpersele voortaan beter te monitor en polisieër.
Met betrekking tot die dwelms gaan die toegangsroetes wat die N1 en N2 hoofweë insluit meer effektief beman word. Die N2 is as 'n dwelmroete geïdentifiseer.
Lamoer het die polisie in die Suid-Kaap geloof vir hul uitstekende werk wat lei tot groot dwelmvondse en sodoende voorkom dat die dwelms op die straat, veral die strate in die metropool, beland.
Deel van hul strategie sluit ook in om meer onwettige vuurwapens te konfiskeer.
Klagtes van die publiek oor die 10111- noodnommer wat reeds maande lank sloer geniet ook nou Lamoer se aandag. Inwoners van George kla reeds sedert vroeër vanjaar dat hulle gereeld sukkel om deur te kom na die 10111-nommer of in 'n gans ander dorp antwoord kry. Die probleem kom tans regoor die provinsie voor.
(1).jpg)
Lt.genl. Arno Lamoer, die Wes-Kaapse polisiehoof, saam met sy provinsiale bestuur, tweede van links staan genl.maj. Fick, genl.maj. Burger, genl.maj. Jephta, lt.genl. Lamoer, genl.maj. Matakata, genl.maj. Jacobs en genl.maj. Matope. Heel links staan me. Magdalene Moos, voorsitter van gemeenskapspolisiëringsforums in die George-streek.