HESSEQUA NUUS - Bobaas storieverteller Gertjie Odendaal van Swellendam sê weeksdae werk hy by die korporasie en naweke “praat ek nonsens”. Die twakpraat het gelei daartoe dat Gertjie ‘n gereelde gaskunstenaar was in Afrikaanse storieverteller-televisie reekse Spies en Plessie en Maak ‘n Las en deesdae te sien is in OppieStoep.
Om grapperige stories te vertel “is my lewenslange talent”, het hy gesê.
Op Saterdagaand, 14 Desember, gaan die 58-jarige “oom Gertjie”, soos hy bekend staan, by die Odendaalfees in Buffeljagsrivier optree. Meer as 100 lede van die Odendaal-familie, meeste van oral oor die Suid-Kaap, maar ook van ander provinsies soos Gauteng, Vrystaat en Kwa-Zulu Natal, gaan by die fees saamtrek.
Dit word van Vrydag, 13 Desember, tot Maandag, 16 Desember, gehou by die Chris-Elle oord aan die oewer van die Buffeljagsrivier wat uitkyk op die Langeberge. Daar is ruim braaiplek, grasperke en ‘n swembad.
Gertjie gaan die groep tydens ‘n groot Spitbraai vermaak. “Dis vir my verskriklik lekker om mense te laat lag. Ek is mal oor mense. Ek gaan ‘n paar lekker stories vertel terwyl ons by die vuur kuier,” het hy gesê.
Oor sy gesin, het Gertjie, gesê “ons is ‘n gesonde Odendaalspan”. Sy tannie en oom leef nog en sy ouma is op 102 oorlede. Hy het bygevoeg “die mans drink baie biere en die vroue raak kwaad”.
Gertjie Odendaal, regs.
Gertjie was van kindsbeen lief vir stories en is aangespoor toe hy in matriek in 1979 die redenaarsbeker gewen het en op 28 ‘n merieteprys ontvang het in ‘n kompetisie wat die legendariese grapmaker Tolla van der Merwe gewen het. Hy onthou ook van matriek op Oudtshoorn: “Al A’s wat op my matrieksertifikaat was, was die A’s in my naam.”
Die organiseerder van die Odendaalfees, Comie Rademan, het gesê mense sien baie daarna uit om nuwe familielede te leer ken en familielede wat reeds bekend is, weer te sien. Sy rig ‘n vriendelike versoek aan alle Odendaals in die omgewing wat die fees graag wil bywoon om teen Dinsdag, 3 Desember, te bespreek.
“Ons wil nie hê enige iemand moet dit mis nie. Daar is genoeg verblyf beskikbaar in die omgewing,” het Rademan, een van die tien kinders van ‘n voormalige stadsklerk van Heidelberg, Thys “Dads” Odendaal, gesê.
Vrydagaand, gaan emeritus professor in Wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch, Gerhard Geldenhuys 'n praatjie oor die Odendaalfamilie gee. Hy sal praat oor die stamouers van die Odendaals, hoe hulle nasate oor die land versprei het en die verskillende bydraes wat hulle gemaak het. Sondagaand word Carols By Candlelight by die Drostdy museum in Swellendam gehou.
Liza en Gerhard Joubert foto.
Die gesogte pianis Liza Joubert, vir wie die Koos Kombuis liedjie Lisa se Klavier, geskryf is, en haar seun, Gerhard, gaan Sondagoggend ‘n klassieke musiekvertoning lewer, insluitende Bach, Brahms en Schubert. Die 17-jarige Gerhard het reeds twee solo vertonings saam met die Kaapse Simfonie Orkes gehou. Liza, ‘n voormalige begeleidster van die Drakensberg Seunskoor, is een van 38 kleinkinders van Thys “Dads” Odendaal. Sy het gesê dis “wonderlik” om só ‘n groot gesin te hê.
“Daar sal altyd iemand wees van wie jy baie hou.”
Om vir die Odendaalfees te bespreek, kontak gerus die organiseerder, Comie Rademan, op 072 179 2548 of pico@wispernet.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'