KLEIN KAROO NUUS - Skilder sal vir De Rust se Glendine Chisholm nooit net ‘n werk wees nie. Dit is ‘n gawe. Iets wat sy gereeld aanwend om ‘n verskil in die lewe van kinders te maak.
Haar “Karoo huisies en lappies landerye” help al vir jare om kinders van dankbaarheid te laat glimlag en dit inspireer haar.
Oor die afgelope vier jaar skenk sy elke jaar ‘n skildery aan die organiseerders van die Optimum Meiringspoort se 21km en 10km wedlope wat hulle kan opveil om geld vir die Herberg Kinderhuis in Robertson in te samel. So is daar al meer as R210 000 ingesamel.
Dit is nie die enigste liefdadigheidswerk waarby sy betrokke is nie. Glendine wil nie hê daar moet 'n ophef hiervan gemaak word nie.
"Ek het 'n talent gekry. Dit is geskenk wat ek nie verdien het nie. Die minste wat ek kan doen is om dit van tyd tot tyd aan te wend om 'n verskil in mense se lewens te probeer maak. As elkeen van ons een keer 'n jaar ons talent 'verniet weggee' twyfel ek nie dat die wêreld 'n beter plek sal word nie."
Glendine se storie hoe sy begin skilder het, is interessant. Haar vroegste herinneringe was as kind toe sy in ouma Lizbeth Opperman se ateljee in Windhoek gesit het en gesien het hoe "prentjies" op ‘n doek lewe kry.
"My familie is nogal kunstig. Ouma Lizbeth se broer was die digter, DJ Opperman. Daardie oomblikke in die ateljee was kosbaar. Ek onthou die reuk van terpentyn. Ouma se musiek. Altyd klassiek. Ouma wat skilder. Vir my was daar 'n hele misterie aan alles. Nooit het ek besef dat ek eendag self sal skilder nie.
"My ouers het eers bewus geword dat ek skilder toe een van my werke vir Santam se gesogte Kinderkuns Almanak gekies is. Dit was 'n eerste vir Namibië. My ouers was trots, maar kuns was wat hul betref nie werk waarmee 'n mens 'n salaris kan verdien nie.
"Na skool het ek modeontwerp gestudeer. Dit het nie uitgewerk nie. Ek het toe 'n lening by die bank aangegaan om kuns by die Pretoria Technikon te studeer.
"Dit was eers na ek geskei het dat ek besluit het dit is nou of nooit. My ma het vir my verf en doeke gekoop wat my instaat gestel het om voltyds te begin skilder. Die keerpunt was toe ek met vyf skilderye by Alice Art Gallery opdaag. Ek wou doodgaan van spanning totdat daar vir my gesê is my werk word aanvaar. Ek sal Alice van Alice Art in Ruimsig altyd dankbaar wees vir wat sy vir my as kunstenaar beteken het."
Glendine Chisholm
Glendine se styl is uniek. Sy beskryf haarself as 'n illustreerder wat skilder. Sy het selfs in New York bekendheid verwerf vir haar skilderye van Karoo huisies en lappieslanderye.
"Dit wat ek doen is nie tradisionele skilderkuns nie, maar op 'n 'weird' manier het ek tog daarin geslaag om my eie styl te ontwikkel."
Een van mees dramatiese tydperke was na haar seun, Dean, in 'n motorongeluk gesterf het.
"Ek het vir 'n jaar lank net vir hom en myself geskilder. Ek moes sy dood deur beelde verwerk. Van die skilderye het ek agterna in plastiek toegedraai en nog nooit weer daarna gekyk nie. Ek glo ook nie ek sal ooit nie."
Fotos: Richard Rostin
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'