TUINROETE NUUS - 'n Geslepe lugtyddief het 'n sakeman van George met 'n slenter gevang wat volgens die Middelburg Observer al etlike jare gebruik word om niksvermoedende mense in te loop.
Die Georgiet waarsku inwoners dat die dief blyk nou in die George- en Knysna-omgewing aktief te wees. Hy is besteel van R1 375 se lugtyd wat hy in goedertrou vir die dief gekoop het.
Volgens die sakeman het die dief na die dokterspraktyk waar sy vrou werk, gebel en gemaak of hy 'n ou pasiënt is.
"Hy het homself voorgestel as oom Hennie Viljoen en gesê hy verwerk, verpak en versprei vleis. Sy koelkamer het opgepak en hy wou weet of die dokter nie 'n beesagterkwart, halwe lam en ander vleis, alles netjies gesny en verpak, verniet wil hê nie, want hy wil dit nie weggooi nie. Die dokter het nie plek gehad vir soveel vleis nie en vir my vrou gesê sy moet dit maar neem."
Hy het "Oom Hennie" en "Tannie Elsie Viljoen" gekontak en reëlings is getref dat hy die vleis anderkant Sedgefield sou gaan haal.
Oom Hennie bel toe sy 'slagoffer' wat reeds op pad was en vra of hy nie in Sedgefield wil stop en vyf lugtydbewyse van R275 elk kan saambring plaas toe nie, want hulle wil nie spesiaal ry nie, en hy sal hom vergoed as hy daar aankom.
"Ek doen dit toe en net voor ek uit Sedgefield ry, bel hy dringend en vra of ek asseblief die bewyse se nommers vir hom wil stuur, want sy trokke moet dadelik ry vir aflewerings en sy drywers het lugtyd nodig. Ek val toe hiervoor en gee die nommers."
"Oom Hennie" sê toe die sakeman moet hom bel wanneer hy by 'n sekere landmerk kom, dan sal hy en die "tannie" hom langs die pad ontmoet met sy "Land Cruiser".
"Nodeloos om te sê, toe ek bel, was sy foon af en het hy verdwyn. Ek is R1 375 kwyt en sonder enige verwerkte vleis. Ek vermoed hy gebruik Google Maps wat sy slagoffers laat dink hy ken hulle omgewing," vertel die slagoffer.
George Herald het 082 658 6265 gebel, die nommer wat deur die dief gebruik is, maar kon nie antwoord kry nie.
Die Middelburg Observer het die dief die "lugtydboef" gedoop nadat hulle al verskeie kere in die verlede oor die slenter berig het. Een joernalis het ook 'n opname van sy stem gemaak.
Daleen Naudé van die Observer skryf dat National Crime Assist (NCA) tydens 'n ondersoek 'n paar jaar terug van die lugtydboewe se spoor tot by tronke gevolg het.
"Hierdie boewe dien gewoonlik lewenslange vonnisse uit. Dit is egter duidelik dat hulle hulp van buite het om teikens te identifiseer. Met sosiale media soos Facebook en WhatsApp-groepe, is dit baie maklik om ook teikens te identifiseer. Lugtyd wat deur die slenter bekom word, word gebruik om handel te dryf in die tronk vir artikels soos sigarette of dwelms," skryf sy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'