Fotograaf, Fanie du Plooy (Fanie du Plooy Fotografie), vertel hoekom hy onlangs drie dae by die skool deurgebring het. "Wat my genoop het om te gaan was die moeder van een van die oorledenes se woorde: ‘En ons het nie eens ’n foto’tjie gehad van die kind nie’. Nadat ek met die hoof, Sammy Williams, gesels het, was dit duidelik dat dit werklik ’n behoefte in die gemeenskap was. Trouens, ook die skool het foto’s nodig gehad vir elke kind se portefeulje."
Dit is duidelik dat Du Plooy diep geraak is toe hy, oppad na die skool, by die ongelukstoneel stilgehou het. "Jy kyk na die kruis en blomme en as jy verder ry na die skool is jou gedagtes onwillekeurig besig met dié wat getref is deur die tragedie - kinders sowel as ouers, ’n skool, ’n hele gemeenskap," sê Du Plooy.
He vertel verder dat hy van mening is dat hierdie gemeenskap mettertyd mekaar se hande sal vat en die toekoms saam sal betree. "Almal wat wil, kan hulle hand vashou en saam met hulle vorentoe gaan."
Daarom het hy aangebied om foto’s van die 740 leerlinge te neem en vir elke ouer ’n foto beskikbaar te stel, asook ’n foto vir elke leerling se portefeulje. "Dit kon ek net doen met die goedgunstige samewerking van Foto First in Meadestraat, George, wat die drukwerk teen ’n baie spesiale prys, gedoen het," verduidelik Du Plooy.
Vir drie dae het die kinders voor sy kameralens verbygeloop. "Sommige se oë was helder en bly. By ander het die seer vlak gelê.
Daar was oë wat uitgeroep het. Daar was donker poele waarin die lig verdwyn het," vertel Du Plooy.
Hy vertel verder dat hierdie ‘n ervaring was wat hom laat sidder het "oor ons kinders en die toekoms van my land. ‘n Ervaring wat my dankbaar gelaat het dat ek langs die weg van fotografie en die gesproke en geskrewe woord, ’n vriend van die skool kon word en ook hulle hand kon neem." Du Plooy verduidelik dat hy dankbaar is dat die hoof en sy personeel nie net skoolhou nie, maar ’n lewensroeping uitleef.
"Die wete dat klinkende munt dikwels jou lot bepaal, maar dat daar ander behoeftes ook is wat ten diepste in die mens se wese insny en luid tot die medereisiger roep, krap intens aan my menswees," het hy gesê.
Hy vertel verder, "Daar is baie sulke gemeenskappe in ons land, onder die hele bevolking. Maar my betrokkenheid lê hier, waar kinders grootliks op hulself aangewese is. Dit sien jy in hulle klere, skoene, die baie uitgeteerde ligaampies. En hulle is dankbaar as hulle twee maal op ’n dag in die ry staan om kos te kry. Ek kyk pouse deur die venster. Baie speel baldadig, net so baie sit en kyk die niet in."
Du Plooy vertel hoe die kinder glimlag, "hulle hou aan jou vas. Hulle gesels met jou, en ek is dankbaar dat die Khanya-projek so goed voorsien het vir die rekenaarlaboratorium, so ook Vodacom en baie ander."
Die kinders het Du Plooy help dra aan sy kameratoerusting en ligte, terwyl ander maar net saamgeloop het. "Kom ons gee ons hand vir die gemeenskap. Kom ons gee een tree op ’n slag saam," sluit hy af.

Rheenendal Laerskool se hoof, Sammy Williams en die adjunkhoof, Jacobus America, en ’n groepie leerders wat onlangs deur die fotograaf afgeneem is.