TUINROETE NUUS - Inenting van gesondheidswerkers in die Tuinroete sal na verwagting aan die einde van Februarie begin.
Die aantal dosisse wat hier benodig word, word tans nog gefinaliseer, het Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, by navraag gesê.
Dit gaan 10 tot 14 dae neem om die kwaliteit van die miljoen dosisse van die Covishield-entstof na te gaan wat op 1 Februarie in Suid-Afrika geland het, volgens 'n verklaring van die nasionale kommunikasie-agentskap van Suid-Afrika.
Daar was vroeër in die week nog onduidelikheid oor hoeveel dosisse die Wes-Kaap sou ontvang en wanneer die besending hier sal aanland. Volgens 'n verklaring van provinsie vroeër in die week het hulle nog vir terugvoering van die nasionale regering in dié verband gewag, maar 105 000 gesondheidswerkers in die provinsie is al geïdentifiseer wat kwalifiseer vir inenting.
Fase 1 van inenting is op gesondheids-werkers gemik.
Ferreira het gesê in die Wes-Kaap word 'n interne kommunikasieveldtog ingespan om alle personeel te bereik om wetenskaplike inligting deur te gee en enige vrae te beantwoord. "Sodoende wil ons soveel as moontlik personeel aanmoedig om hulle te laat inent en hulle te beskerm teen Covid-19."
Inenters opgelei
Op Dinsdag 2 Februarie het die opleiding van die eerste 1 995 inenters in die provinsie begin. Premier Alan Winde het in 'n verklaring gesê 'n enkele inenter kan tussen 40 en 50 mense per dag inent. Daar word geskat dat ongeveer 414 van hulle in fase 1 benodig sal word. Sodra die opleiding voltooi is, is die provinsie slaggereed vir fase 1 van inenting.
Dit is die grootste opleidingsprojek van die gesondheidsdepartement nog ooit. 'n Groot aantal gesondheidswerkers moet binne 'n kort tyd opgelei word.
Winde het gesê gesondheidswerkers het reeds jare se opleiding en ondervinding van inenting en die opleiding fokus dus slegs op spesifieke inligting rondom die Covid-19-entstof, onder meer die hantering daarvan, berging, navorsing, produkinligting, en so meer. Dit geskied grootliks aanlyn en is selfgerigte opleiding aangevul met weeklikse virtuele sessies. Dit is deur die nasionale departement van gesondheid geakkrediteer.
"Die inenters is die ruggraat van die inentingsprogram, want hulle moet help verseker dat soveel mense moontlik binne die kortste moontlike tyd, op 'n veilige manier, en volgens die vereiste prosedures bereik word."
Die eerste 1 995 gesondheidswerkers van die Wes-Kaap het met opleiding oor die Covid-19-entstowwe begin.
Inentingspersele
Ferreira het gesê, "Die departement is tans besig om die besonderhede van die inentingsplan te finaliseer. Dit sluit in identifisering van elke inentingsperseel, wat geakkrediteer moet wees. Vir fase 1 het ons 378 terreine in provinsiale gesondheids-, munisipale gesondheids- en private gesondheidsinstellings geïdentifiseer."
Beplanning is reeds in die pyplyn vir fases 2 en 3, wat aansienlik meer ingewikkeld sal wees weens groter getalle mense wat ingeënt sal word. Mense in afgeleë plekke sal dan ook bereik moet word.
Die inenters is die ruggraat van die inentingsprogram want hulle moet help verseker dat soveel mense moontlik binne die kortste moontlike tyd bereik word, op 'n veilige manier en volgens die vereiste prosedures. Van die Wes-Kaapse gesondheidswerkers wat aangemeld het vir opleiding is van links: Maria-Lagrimas Botha, Theresa Johnson, Tercia Jacobs, Elrien Joubert, Natalie Nel, Mica Jackson, Thanya Petersen en Alta Davids.
Registrasieproses
Volgens die nasionale gesondheids-departement is 'n elektroniese entstofdatastelsel ontwikkel vir die inentingsregistrasieproses. Sodra iemand kwalifiseer om ingeënt te word, sal hy/sy 'n afspraak kan maak vir inenting by hul naaste inentingsentrum.
Volgens wetenskaplikes moet 67% van 'n bevolking ingeënt wees om kudde-immuniteit te bereik. In Suid-Afrika is dit 40 miljoen mense.
Die opleiding is grootliks aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'