SUID-KAAP NUUS - Die Wes-Kaapse departement van gesondheid is besig om reëlings in plattelandse gebiede te tref om ondersteuning te kan bied aan mense van 60 jaar en ouer wat vir fase 2 van die Covid-19-inentingsprogram wil registreer, maar wat nie die nodige tegnologie het om dit aanlyn te doen nie.
Sandra Maritz, 'n kommunikasiebeampte van die departement, het by navraag gesê die Tuinroete het meer as 80 000 mense in hierdie ouderdomsgroep.
"Ons werk nou saam met verskeie rolspelers aan die beplanning van fase 2 se inwerkingstelling. Ons sal die gemeenskap inlig sodra meer besonderhede gefinaliseer is." Maritz het versoek dat persone van 60 en ouer, wat nie self kan registreer nie, in die tussentyd hulp vra van iemand wat hulle kan vertrou om namens hulle te registreer.
"Om aan te dui dat registrasie suksesvol was, sal die aanlynregistrasieplatform 'n SMS stuur na die selfoonnommer wat deur die persoon gelys word. Wanneer dit die persoon se kans is om ingeënt te word, sal inligting rakende die datum, tyd en plek ook na die selfoonnommer gestuur word wat tydens registrasie gelys is.
"Dit is dus belangrik om te verseker dat die gelyste nommer op die stelsel korrek is en dat dit werk. Mense moet ook seker maak dat hulle die korrekte munisipale gebied kies wanneer hulle registreer."
Maritz het nie bevestig of / waar bykomende inentingslokale in die Tuinroete, buiten die George-hospitaal, in gereedheid gebring word nie.
Registrasie op die nasionale elektroniese inentingsdatastelsel (EVDS) is verlede week amptelik vir die publiek geopen met die oog op fase 2 van die inentingsprogram wat volgens die nasionale departement van gesondheid se beplanning op 17 Mei afskop.
Gedurende hierdie fase, wat na verwagting in Oktober afgehandel sal wees, word ouer persone en essensiële werkers geteiken.
Premier Alan Winde het verlede week in 'n aanlynkonferensie gesê die laaste gesondheidswerkers sal voor 16 Mei ingeënt word voor die aanvang van fase 2 op 17 Mei met beide Pfizer en Johnson & Johnson (J&J) se entstowwe.
"Daar sal 'n oorgang van die een ouderdomsgroep na die volgende wees wanneer ongeveer 70% van die huidige ouderdomsgroep (60 en ouer) ingeënt is."
Die provinsie beoog om van 17 Mei tot 30 Junie 723 160 mense van 60 jaar en ouer in te ent, en tussen 1 Julie en 30 Oktober 684 149 mense tussen 50 en 59 jaar, en 904 358 mense tussen 40 en 49 jaar.
Aktiewe getalle minder
Die aantal aangemelde aktiewe Covid-19-gevalle in die Tuinroete soos op Dinsdag 20 April was 221, effens minder as 'n week gelede se syfer van 226. Die onderskeie subdistrikte se aangemelde gevalle is soos volg: George 98, Mosselbaai 17, Knysna 24, Oudtshoorn 57, Bitou 16, Hessequa 6 en Kannaland 3.
Dr. Keith Cloete, Wes-Kaapse hoof van gesondheid, het verlede week tydens 'n digitale konferensie gesê die aantal nuwe gevalle wat in die Tuinroete aangemeld is, toon 'n klein toename, hoewel die totale syfers laag is.
In George het die nuwe aangemelde gevalle ook effens gestyg vergeleke met vorige weke en die George-hospitaal ervaar 'n klein toename in Covid-19-pasiënte.
Die voortuitskatting van Covid-19-inentings van die Wes-Kaapse departement van gesondheid indien genoeg entstowwe ontvang word.
Sahpra vra dat J&J-opskorting beëindig word
Die Suid-Afrikaanse regulatoriese owerheid op gesondheidsprodukte (Sahpra) het op Vrydag 17 April gevra dat die opskorting van die Sisonke-inentingsprojek met die J&J-entstof beëindig word op sekere voorwaardes.
Verbeterde sifting en monitering van die deelnemers met 'n hoë risiko vir bloedklontvorming sal onder meer vereis word. Die Sisonke-program is op Dinsdag 13 April opgeskort nadat ses vroue in die VSA wat die J&J-entstof ontvang het, bloedklonte ontwikkel het ná inenting.
Suid-Afrika verwag om 31 miljoen J&J-dosisse te ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'