Die departement van landbou het vroeër vandeesweek die inligtingsdag, wat Dinsdagaand ook televisienuus gehaal het, vir byeboere aangebied.
“Die behoefte aan so ‘n inligtingsdag het ontstaan weens die probleem wat die saadbedryf verlede jaar ervaar het toe bestuiwing nie na wense geskied het nie,” sê Willem Burger, hoof van Landbou Ondersteunings- en ontwikkelingsdienste.
“Ons gaan aan die hand van ‘n vraelys wat deur saadprodusente ingevul moet word, probeer analiseer wat tot die verskynsel gelei het, en hoe ‘n soortgelyke situasie in die toekoms voorkom kan word.”
Volgens Burger is swak bestuiwing nie ‘n unieke probleem nie, maar weens ‘n sameloop van omstandighede het die tendens verlede jaar vir sekere uiesaadprodusente ‘n krisis veroorsaak wat tot miljoene rande se skade gelei het.
Die vraelys sal deur Charles Salmon, landbou-adviseur op Ladismith, as deel van sy studies ontleed word en prioriteitsprobleme identifiseer wat verder nagevors sal word.
Volgens byeboer, Nelson de la Quera, is daar sowat 80 kommersiële byeboere en sowat 1 200 kleiner byeboere in Suid-Afrika. Die kommersiële boere produseer altesaam sowat 2 200 ton heuning per jaar, waarvan die groter byeboere verantwoordelik is vir sowat 70 persent van die produksie, asook vir sowat 90 persent van die bestuiwingsdiens.
Suid-Afrika se heuningverbruik is nagenoeg 5 000 ton per jaar, en die balans word opgemaak uit heuninginvoere veral uit China. Al die ingevoerde heuning moet bestraal word om te voorkom dat siektes soos Amerikaanse en Europese Vuilbroed en ander siektes die land binnekom.

Nelson de la Quera, David Smit, John Moodie, Charles Salmon, Willem Burger en Theunis Engelbrecht was sprekers tydens die byedag wat by Oudtshoorn-navorsingsplaas aangebied is. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo | Tuinroete nuus'