KNYSNA NUUS - Een van die gewildste items op Knysna se sportkalender is die weeklikse parkrun. Nie eens die bewolkte weer en ligte motreëntjie wat vroegoggend uitgesak het, kon verlede Saterdag die byeenkoms kelder nie.
Altesaam 210 atlete en stappers het aangemeld vir die 5 km-uitstappie terwyl 12 vrywilligers reggestaan het om te ondersteun.
Tyler Abrahams was die eerste atleet oor die eindstreep in ’n persoonlike beste tyd van 17:24. In die algehele derde plek en ook die eerste vrou oor die eindstreep was Nikki Walter in ’n tyd van 19:02.
Danie Brown het sy 100ste parkrun voltooi en die veteraan Arthur Field was ook weer daar. Hy het al meer as 400 parkruns voltooi en mik nou na die magiese 500.
Eerskomende Saterdag maak die klomp Knysna-drawwers weer so.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’