Advertorial
KNYSNA | PLETTENBERGBAAI NUUS - Die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, pak vanaf 2018 ‘n splinternuwe ontwikkelingsprojek vir talentvolle sangers tussen die ouderdomme van nege tot sewentien aan, met die stigting van ‘n Knysna/Plettenbergbaai-streekkoor onder die vaandel van die Suid-Kaap Kinderkoororganisasie.
Die uitrol van nuwe streekkinderkore vorm deel van ‘n oorhoofse ontwikkelingsprojek om koormusiek in die platteland van die Klein-Karoo, Eden en Tuinroete van die Wes-Kaap te hervestig. Weens groot afstande en stygende reiskoste, ondervind plattelandse sangers met talent ‘n gebrek aan hoë-vlak blootstelling, ontwikkeling en optreegeleenthede.
Om dié redes word oudisies vir lidmaatskap van die Knysna/Plettenbergbaai “tak” van die Suid-Kaap Kinderkoor met die samewerking van plaaslike skole en musieksentrums van stapel gestuur. Plaaslike kore sal in hul eie dorpe deur die personeel van die Suid-Kaap Kinderkoor en Musiekakademie besoek en ontwikkel word, waaruit verskeie optreegeleenthede geskep sal word. Presterende lede uit elke koor sal gekies word om die streek, die provinsie en Suid-Afrika op internasionale konserttoere en kompetisies te verteenwoordig, oefenkampe by te woon, en deel te vorm ‘n jaarlikse massakooruitvoering van alle takke van die koor.
Instrumentaliste word ook nie uitgesluit nie. Die konsert-en-toerkore van die Suid-Kaap Kinderkoor sal voortaan deur instrumentale ensembles begelei word, wat dan in ‘n toekomstige junior streek-simfonieorkes ontwikkel sal word.
Gekose lede sal ook die geleentheid gebied word om volgende jaar aan die Wêreld Olimpiese Koorspele, wat tydens die Julie-vakansie in Tshwane aangebied word, deel te neem. Deelname aan hierdie kompetisie, wat meer as sewehonderd topkore vanuit die wêreld trek, is gelykstaande aan Springbok-kleure.
Die Suid-Kaap Kinderkoor het verlede jaar ‘n 1ste Plek (cum laude) teen 38 lande tydens die 64ste Europese Musiekfees vir Jongmense in België ingepalm. Tydens 2014 se Wêreldkoorspele in Riga, Letland, het die Kinderkoor ‘n wêreld-1ste plek in die Musica Sacra Ope-afdeling asook drie goue medaljes behaal. In 2013 het die Koor die gesogte Kannaprys vir beste musiekproduksie tydens die KKNK met Chris Chameleon verower.
Belangstellende sangers en instrumentaliste tussen die ouderdomme van nege en sestien kan die korebestuurder, Mimi Haasbroek by 082 585 0632 skakel. Musici wat as plaaslike beamptes en begeleiers vir die kore wil dien, kan ook aansoek doen.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'