RHEENENDAL NEWS – Die Lapland Ontwikkelingskomitee het verlede Saterdag met hul eerste straatsokkertoernooi opnuut bewys dat gemeenskapsamewerking en sport kragtige boustene vir eenheid en vooruitgang in 'n dorp kan wees.
Die straatsokkertoernooi, die eerste van sy soort in Rheenendal, is deur talle inwoners as 'n groot sukses beskryf.
Die aksie was energiek en 'n atmosfeer van entoesiasme en wedersydse ondersteuning het geheers.
Tien spanne het aan die toernooi deelgeneem – mans-, vroue- en selfs kleuterspanne. Die kompetisie was straf, met elke span wat hul uiterste bes gelewer het in die hoop om as wenners gekroon te word. Met kontantpryse en trofeë op die spel, was die wedstryde selfs nog meer gelaai met spanning.
Na afloop van die wedstryde is alle deelnemers met verversings bederf.
Volgens Leon Oelf, een van die organiseerders, verdien die Lapland Ontwikkelingskomitee besondere lof vir hul volgehoue strewe om geleenthede vir die jeug en gemeenskap te skep.
Oelf en sy span was vroeër vanjaar ook verantwoordelik vir Rheenendal se eerste kaskar-wedrenne, wat in Februarie groot opslae gemaak het.
"Ons doel is nie net vermaak nie, maar gemeenskapsbou - om ruimte te skep waar almal kan deelneem en saam groei," sê Oelf.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’