RUBRIEK: Ons leef voorwaar in tye waar tegnologie wondere verrig en waar tegnologie die moderne lewe dikteer. Die vordering in tegnologie by ons asem wegslaan. Dink maar daaraan dat 3-D drukkers deesdae al organe druk en selfs kos al ‘gedruk’ word.
Wat inligtingstegnologie betref is inligting oor bykans enige onderwerp deesdae net ‘n klik weg en nie meer slegs in biblioteke en boeke beskikbaar nie.
Die feit dat inligting so vinnig regoor die wêreld versprei, het baie bygedra dat inligting en kennis omtrent Covid-19-pandemie vinniger na mense regoor die planeet versprei kon word. Dit het daartoe bygedra dat meer regerings en meer mense vinnig kon optree, voorbereidings kon tref en sodoende vele lewens kon red.
Enige inligting, van watter aard ook al, word in ‘n oogwink regoor die wêreld versprei en op vele platforms gepos vir miljoene mense om te lees en moontlik weer verder te versprei.
Maar, saam met hierdie tegnologie wat inligting so vinnig versprei, is daar natuurlik ook ‘n negatiewe kant. Ewe skielik is die wêreld vol ‘kenners’ wat ‘raad’ gee en valse teorieë versprei.
Vals nuus het sekerlik een van die grootste euwels geword in hierdie moderne tyd, veral wanneer mense iets soos die Covid-19-pandemie beleef. Vrees en onsekerheid laat mense na enige stukkie raad gryp en hierdie onwaar inligting word as ‘n evangelie rondgestuur op alle sosiale media platforms.
Dink maar net aan die vals nuus wat rondgegaan het dat malaria-medikasie kan help teen die koronavirus. Ewe skielik is al hierdie malaria-medikasie opgekoop en kon die arme malaria-pasiënte nie meer medikasie bekom nie.
Of, die vals nuus dat honde die Covid-19-virus kan oordra. Die het veroorsaak dat vele mense hul honde by verskeie dierebeskermingverenigings gaan aflaai het. Die arme onskuldige honde! Ook, diegene wat glo en verkondig dat die Covid-19 biologies vervaardig is om sekere persone, groepe of maatskappye te bevoordeel laat mens wonder watter bog mense nog alles sal glo.
Die feit bly staan, pasop vir vals nuus (fake news), dit verrig baie skade en word moeilik gestop. Voordat jy iets glo en moontlik aanstuur, maak seker van die bron vanwaar dit kom.
As dit nie ‘n erkende bron, soos ‘n regerings, mediese of wetenskaplike oorsprong het nie, lees dit beslis met ‘n knippie sout en beskou dit as onverantwoordelik om verder te versprei.
Ten slotte, wees baie paraat in hierdie tye en moenie enigiets glo wat jy lees of wat vir jou aangestuur word nie. Ook, wees asseblief verantwoordelik voordat jy enigiets aanstuur na ander partye - ondersoek eers die egtheid van die inligting.
Volgende week praat prof. Van Solms oor hoe mens tegnologie op ‘n positiewe wyse kan gebruik om die alleenheid so bietjie te verdryf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'