GEORGE NUUS - Die tandetrek is verby. Plaaslike tandarts, Ian Venter, is gister, Woensdag 11 April, in die George-streekhof skuldig bevind op aanklag van seksuele aanranding van 'n minderjarige.
Terwyl 'n bloedrooi Venter, uitgevat in 'n pak met 'n das, in die beskuldigdebank gestaan het, het streeklanddros Francis Makamandela haar uitspraak gelewer.
Makamandela het gesê hoewel die hof versigtig moet wees in gevalle waar 'n enkelgetuie 'n kind is, het die hof die slagoffer as 'n selfversekerde en intelligente seun, wat nie sy getuienis met venyn afgelê het nie, ervaar.
"Hy het homself nie weerspreek nie en sy getuienis was deurlopend konsekwent. Hy en sy ma se getuienis het ook ooreengestem," het sy gesê.
Die aanklag
Venter is daarvan aangekla dat hy op die aand van 11 April 2015 die 13-jarige seun, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het. Hy het skuld ontken met die verweer dat hy nie geweet het in watter kamer die seun geslaap het nie en nie in die kamer was nie.
Hy het die ligte afgesit en gaan slaap na hy daardie aand die kombuis skoongemaak het.
Getuienis
Die slagoffer het in sy getuienis gesê Venter het die aand van die voorval vir hom gesê om in sy jongste seun se kamer, wat toe leeg was, te gaan slaap. Hy het op die seun se bed gaan sit en vir hom gesê om op sy sy te lê waarna hy hom begin kielie het. Hy het stelselmatig afbeweeg en die seun betas.
Die seun het vir Venter gesê hy hou nie daarvan nie en hom gevra om die kamer te verlaat.
Daarna het die seun die huis verlaat sonder om enigiemand, selfs nie Venter se seun, wat sy vriend was, te vertel nie.
Die slagoffer se ma het in haar getuienis genoem dat sy die volgende oggend eers gesien het dat haar seun tuis is.
Lees meer op ons susterskoerant, George Herald.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'